Drukkies van liefde

LEPHALALE — Hardekool Akademie se graad R, een en twee leerders het die inwoners van die SAVF Maroela-oord asook hulle oupas en oumas Vrydag 24 Augustus vermaak met liedjies, gedigte en redenaarvoordragte.

Leerders van Hardkool Akademie sing vir hul oupas en oumas en inwoners van Maroela-oord

Dié Oupa- en Oumadag is ʼn bederf- en dankiesêdag en ʼn jaarlikse instelling by Hardekool Akademie.

Wilma Muller, skoolhoof, het gesê die tema van die dag is “liefde” en daarom was die tafels met rooi harte en hartvormige koekies versier.

Sy het die vele spreekwoorde oor die liefde met die spesiale gaste gedeel.

“Oupas en oumas weerspieël die liefde met drukkies, ietsie lekkers in die sak en die sagte hande van ouma en growwer hande van oupa wat die liefde ken.”

Een van die liedjies wat gesing is getuig juis van grootouers se liefde vir hul kleinkinders met die woorde: “Al hul drukkies is van liefde gemaak”.

Wilma het die personeel van die skool asook die Maroela-oord spesiaal bedank omdat hulle met soveel liefde met die kinders omgaan.

Ds Arno Nieuhoff van die AP-Kerk het die opening met skriflesing en gebed waargeneem en kinders as pêrels beskryf.

Daarna kon almal smul aan heerlike verversings terwyl daar gesellig verkeer is.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.