Dubbele hartseer vir familie

LEPHALALE — ʼn Geregtelike doodsondersoek is geopen by Lephalale Polisie nadat die liggaam van die 32-jarige Willem Jacobus (Cobus) van Aarde in die vroeë oggendure van Sondag 1 November gevind is.

Die voorval het gebeur op die Werkendamplaas buite Lephalale op die Markenpad.

Volgens vriende het hulle Cobus nog Saterdag by ʼn Kers-boeremark gesien en daar was blykbaar geen ooglopende tekens dat dit met hom sleg gegaan het nie.

Die ondersoek duur voort met speurder-adjudant-offisier Matlou as ondersoekbeampte.

Die Van Aarde- en Vorster-familie het die afgelope week ook afskeid geneem van die 69-jarige Ben Vorster. Vorster is Dinsdag 3 November in die oggendure in sy slaap by sy huis oorlede na ʼn kort siekbed.

Vorster was Cobus van Aarde se oom.

Bets Vorster, Ben se vrou, en die res van die familie bedank die gemeenskap van Lephalale vir die ongelooflike ondersteuning wat hulle ontvang. “Dankie aan elkeen wat ons in hierdie tyd ondersteun deur middel van besoeke, oproepe en boodskappe – julle dra ons in hierdie hartseer tyd,” sê Bets.

ʼn Gesamentlike diens vir Ben en Cobus word Maandag, 9 November om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk Ebenhaeser gehou.

Mogol Pos wens die betrokke families baie sterkte toe in dié hartseer tyd.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.