Duidelikheid oor Wapenwet

Leoni Kruger
Sedert die hofuitspraak dat Artikels 24 en 28 van die Wet op Beheer van Vuurwapens ongrondwetlik verklaar is, het Mogol Pos baie navrae ontvang oor wat die implikasies daarvan werklik is.
Fred Camphor, Hoof Uitvoerende Bestuurder van SA Jagters gee duidelikheid.
Buiten die twee artikels wat ongrondwetlik verklaar is, word die Parlement 18 maande gegun om die wet aan te pas sodat dit grondwetlik reg is.
Alle vuurwapenlisensies wat reeds verval het, sowel as dié wat nog gaan verval, word steeds as geldig geag totdat die Grondwethof ‘n besluit geneem het oor die grondwetlikheid van Artikels 24 en 28 van die Wet.
Die SAPD (Respondent) word beveel om ‘n groot deel van die regskoste van die SA Jagters (Applikant) te betaal wanneer die saak afgehandel is.
Die SAPD het in ‘n mediaverklaring bevestig dat geen individu wat in besit is van ‘n vuurwapen waarvan die lisensie verval het, vervolg sal word nie. Die verklaring bepaal ook dat geen wapens wat ingehandig is omdat die lisensie verval het, vernietig sal word nie.
Camphor sê dat die SAPD besluit het om direk by die Grondwethof te appelleer. Die reëls van die Grondwethof bepaal dat die Hoofregter moet voorskryf hoe die proses hanteer moet word en die Hof is in reses tot einde Julie 2017.
Camphor sê daar is baie wanpersepsies by wapeneienaars soos byvoorbeeld dat dit nie meer nodig is om aansoek te doen vir herlisensiëring nie of dat mens jou vuurwapen wat ingehandig is kan gaan terugvra van die polisie. Hy sê sulke uitsprake en aannames is gevaarlik en nie waar nie.
SA Jagters gee die volgende raad:
• Indien jy ‘n vuurwapenlisensie het wat gaan verval, doen betyds aansoek om die lisensie te hernu. Voltooi die aansoekvorm, heg die ondersteunende dokumente aan en handig die aansoek in by die plaaslike aangewese vuurwapenbeamptes by die naaste polisiestasie;
• Indien jy reeds ‘n vuurwapen by die polisie ingehandig het omdat die lisensie verval het, moet dit nie gaan terugvra nie. Dit sal aan jou teruggegee word.
Dit is belangrik om te onthou dat die SAPD reeds gesê het dat hulle geen ingehandigde vuurwapens sal vernietig nie;
• Indien jy wel in besit is van ‘n vuurwapen waarvan die lisensie verval het, hou dit veilig in die kluis en moet dit verkieslik nie gebruik nie (die polisie het ook onderneem om niemand te vervolg wat in besit is van ‘n vuurwapen sonder lisensie nie).

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.