Duik in pad, pad byster

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die bestuurder van ‘n Toyota Hilux het Sondagoggend rondom 10:30 ‘n noue ontkoming gehad nadat die voertuig van die pad af geloop en in die bosse langs die Stockpoortpad (510) tot stilstand gekom het.
Daar is onmiddellik hulp ontbied deur middel van die noodradiodiens, Delta 1, waarna ‘n ambulans en noodvoertuig na die toneel is.
Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale polisiewoordvoerder, was een van die passasiers in die voertuig vasgekeer en nooddienste moes die voertuig oopsny om hom uit te kry.
A.o. Mokoena sê die bestuurder van die voertuig het gesê hy het deur ‘n duik in die pad gery en beheer oor sy voertuig verloor.
Die bestuurder van die voertuig sowel as een van die ander passasiers het langs die pad gestaan toe die nooddienste opdaag.
Die drie persone is hospitaal toe geneem vir die behandeling van veelvuldige beserings.
A.o. Mokoena het bevestig dat ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur by Lephalale Polisie geopen is.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.