Duik is in sy bloed

Kobus Pieters
Kobus Pieters

Leoni Kruger
LEPHALALE — As daar een ding is wat hy deur sy jare as polisieduiker geleer het, dan is dit geduld, fokus en dankbaarheid vir dit wat hy het.
Jaco Pieters, eienaar van die plaas Spreeuwal in die Overyssel-omgewing, was vanaf 1988 tot 2009 ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Polisie. Die werk wat hy gedoen het, het egter so bietjie verskil van gewone polisiewerk. Hy het in sy loopbaan meer as 500 liggame uit damme, riviere en gruisgate in die Vaaldriehoek uitgehaal.
Kobus sê hy het altyd in duik belanggestel en het op skool in sportduik uitgeblink. Die besluit om ‘n polisieduiker te word was dus eintlik ‘n logiese uitvloeisel van dit waarvan hy hou.
Hy het in 1990 vir ‘n ses weke duikkursus in Pretoria gegaan waar duikers aanvanklik eers in ‘n swembad en later in donker water leer duik. Na die kursus het hy onmiddellik by die span aangesluit.
Hy verduidelik dat mens moet onthou dat hulle feitlik nooit in skoon water duik nie, maar byna altyd in vuil, troebel water wat pikdonker is. “Mens moet leer om op jou ander sintuie staat te maak, want jy kan absoluut niks onder die water sien nie” sê hy.
Polisieduikers haal nie net liggame uit die water nie, maar ook ander bewysstukke soos wapens, voertuie, wrakstukke of letterlik enige item wat kan bydra tot die oplos van ‘n saak.
“Die heel slegste was altyd vir my as ek ‘n kind se liggaam moet soek. As daar kinders betrokke is, is dit altyd baie sleg. Die ouers sit met soveel afwagting en wag dat jy uit die water kom en mens is meesal nie suksesvol met die eerste duikslag nie, aangesien jy net sowat ‘n halfuur op ‘n slag onder in die water kan bly. Baie mense verstaan nie as jy drie dae lank na ‘n liggaam soek en elke keer met leë hande uit die water kom nie” sê Kobus. Hy sê dit maak hulle taak baie moeilik as die uitwysings nie akkuraat is nie.
Hy verduidelik verder dat ‘n duiker vinnig in die water kan afsak, maar geleidelik moet opgaan. “Om sowat 10 meter per minuut te styg is goed, anders gaan daar te veel stikstof in jou bloed en dan is borrelsiekte ‘n moontlikheid” sê hy.
Hy kan goed onthou dat die eerste lyk wat hy uitgehaal het, in vlak water in die Vaaldam gevind is. “Die water was net sowat een meter diep” sê hy.
Dit is baie belangrik om te kan fokus op die omgewing om jou wanneer jy in die donker water afsak, maar mens se ander sintuie neem amper outomaties oor. Daar is ook altyd ‘n tou waaraan jy moet vashou. As jy daai tou verloor het jy moeilikheid, want jy kan later nie onderskei watter kant is bo en waar is onder nie” vertel Kobus.
Hy sê behalwe dat ‘n polisieduiker die meeste van die tyd vir mense slegte tyding bring, is dit nie net sleg nie, want deur ‘n liggaam aan geliefdes te oorhandig, bring afsluiting. “Daar is dan ‘n konkrete iets om van afskeid te neem”.
Die mees algemene gevalle waar mense verdrink is uit sy ondervinding hengelaars wat vanaf kano’s visvang, kinders wat in gruisgate val en dan nie kan uitkom nie en mense wat in riviere of damme gedoop word.
Die lewensles wat hy geleer het is om geduldig te wees, want “as jy daar onder in die diep donker water is dan moet mens maar geduldig wees”. Hy het ook geleer om te fokus en kalm en rustig te bly in moeilike omstandighede.
Sy tong-in-die-kies raad aan mense is om nie te dink dit is ‘n oplossing om ‘n liggaam in die water te gooi om daarvan ontslae te raak nie, want “’n liggaam kom altyd terug na die oppervlak van die water”.
Hy sê selfs al word die liggaam saam met ‘n swaar klip of iets in die water gegooi om dit onder te hou, kan die liggaam tydens die ontbindingsproses as’t ware uit die vel “krimp” en styg na die oppervlak.
Vandag woon hy en sy gesin deeltyds op hulle bosveldplaas en as hy nie op die plaas is nie, bied hy opleiding aan in sportduik. Want om te duik is in sy bloed.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.