Duiwedinge

LEPHALALE — Die amptelike 2019-duiwewedvlugseisoen is nou in volle swang. Die duiweboere skarrel nog vir oulaas om seker te maak die duiwe is fiks en gesond. Voel kompleet of daar so ’n gees van verwagting hang oor vanjaar se wedvlugte. ’n Soort opgewondenheid wat lanklaas ervaar is.

Die duiwe was Saterdag 8 Junie onderskeidelik om 08:00 en 08:30 in mooi weer by Grassmere losgelaat en hulle het die amper 300 kilometer wedvlug (soos die kraai vlieg aldus die gesegde) afgevlieg in net duskant drie ure en 26 minute. Die eerste duif terug in die Ellisras Duiweklub het om 11:25:25 oor die antenna van die duiweklok in die duiwehok geloop.

Die rooi gespikkelde wyfie, eiendom van oom Koos Myburgh, het die sowat 300 kilometer afgevlieg teen ’n gemiddelde spoed van 1444,5907 meter per minuut (86,67 km/h). Hierdie duif het met net 10 minute onder die mededinging uitgevlieg.

“Dit wil gedoen wees! Baie geluk oom Koos. ‘It is now two in a row’”.

Die eerste duif terug in die klub se ope-wedvlug is die eiendom van Richie Pieterse en dié was ingeklok om 11:53,12. Die gemiddelde spoed van hierdie duif was 1473,2375 meter per minuut (88,39 km/h).

Richie het amok gemaak en die klub platgevlieg in hierdie wedvlug deur die eerste nege plekke te verower.

Die uitslae van die Grassmere Jaaroud-wedvlug is soos volg: Oom Koos Myburgh 1, 3; Richie Pieterse 2, 4, 5, 6, 7, 9 en 10; Johan Lee 8.

Grassmere Ope-wedvlug: Richie Pieterse 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, en 9; Johan Lee 10 en Oom Koos Myburgh 11.

Oom Koos gaan moeilik geklop word met die jong duiwe en die rooi ligte flikker vir die mededinging. Baie geluk aan almal wat goed gedoen het en sterkte aan die manne wat gesukkel het. Tot volgende week dan, groete van huis tot huis en mag die beste duif weer wen. En moenie vergeet om die duiwe te behandel teen duifmalaria nie.
— Johan Lee

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.