Duiwedinge

LEPHALALE — Die vierde wedvlugnaweek (wedvlug sewe en agt) van die amptelike 2019-duiwewedvlugseisoen is vanaf Parys gevlieg wat ongeveer 360 km vanaf Ellisras geleë is – dis nou in ’n reguit lyn. Die duiwe is Saterdag 15 Junie om 07:30 en 08:00 onderskeidelik in mooi weer losgelaat.

Die duiwe het so ligte suidwestelike windjie gehad om mee rekening te hou tydens loslating – skuins van agter af.

Die eerste duif terug in die Ellisras Duiweklub het om 12:06,17 oor die antenna van die duiweklok in die duiwehok geloop. Die blouspikkel witpenkleurige wyfie, eiendom van Richie Pieterse, het die sowat 360 kilometer afgevlieg teen ’n gemiddelde spoed van 1306,5283 meter per minuut (78,39 km/h). Die eerste duif terug in die opewedvlug in die klub is ook die eiendom van Richie en was ingeklok om 12:33,17. Die gemiddelde spoed van hierdie duif was 1320,8767 meter per minuut (79,25 km/h). ’n Paar duiweboere het genoem dat hulle duiwe in kleinerige pakke by die huis gearriveer het en dit wil voorkom of die duiwe min gesukkel het tydens die twee wedvlugte.

Die uitslae van die Parys Jaaroudwedvlug is soos volg: Richie 1, 2, 4, 5, 6, 7, 8; Johan Lee 3, 9; Koos Myburgh het 10de geëindig.

Parys Opewedvlug: Richie 1, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10; Johan Lee 2, Koos Myburgh 14.

Richie het al klaar gewys dat hulle vanjaar moeilik geklop gaan word en maak die pap lekker dik aan. Oom Koos het reeds twee puik jongduifwedvlugte gehad waar hy in styl met al die ander duiweboere afgereken en sommer minute ver vooruit sy duiwe geklok het. Richie is die vroeë voorloper in die wedloop as klubkampioen 2018 maar daar moet nog baie water in die see loop. Baie geluk aan die wenners en aan al die lede wat goed gedoen het en sterkte aan die lede wat minder goed gedoen het.

Hierdie wedvlugseisoen beloof om baie verrassings op te lewer. Tot volgende week dan, groete van huis tot huis.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.