Duiwedinge

Die negende wedvlugnaweek (wedvlug 17 en 18) van die amptelike 2019-duiwewedvlugseisoen is vanaf Hopetown (750 km) en ook Wolmaransstad (430 km) gevlieg. Die Hopetown-duiwe is Vrydag 19 Julie om 07:30 losgelaat in ’n suidwestelike wind en die Wolmaransstad-duiwe is Saterdag 20 Julie ook om 07:30 losgelaat met ’n suidelike windjie agter hulle. Beide die wedvlugte was ope-wedvlugte (enige ouderdom wedvlugte) en in beide wedvlugte het die wind die duiwe gehelp om ’n taamlike hoë spoed te bereik.

Die eerste duif terug in die Ellisras Posduifklub vanaf die Hopetown-loslating het Vrydag om 15:59,32 oor die antenna van die duiweklok in die duiwehok geloop. Hierdie duif van Richie Pieterse het die 750 km wedvlug afgevlieg teen ’n gemiddelde spoed van 1480 0312 meter per minuut (88,80 km/h).

Die eerste duif terug in wedvlug 18 vanaf Wolmaransstad het Saterdag om 11:09,21 oor die antenna van die duiweklok in die duiwehok geloop.

Hierdie duif behoort ook aan Richie en het die wedvlug afgevlieg teen ’n gemiddelde spoed van 1962 5697 meter per minuut (117,75 km/h). Die uitslae van die wedvlugte is as volg:

Hopetown (wedvlug 17): Richie Pieterse 1, 2, 3, 4, 5, 7, 8, Johan Lee 6 en Koos Myburgh 9 en 10.
 Wolmaransstad (wedvlug 18): Richie Pieterse 1, 3, 4, 5, 6, 8, 9, Johan Lee 2, 10 en Koos Myburgh 7.

Baie geluk aan Richie wat weer beide die wedvlugte van die naweek gewen het. Skielik raak die man nou rof en onbeskof. En dis hoe dit hoort, “show no mercy, and take no prisoners”. Dit lyk nie of iemand vir Richie gaan kan vang nie. Hy loop nou gemaklik voor op die punteleer met nog so handvol of twee wedvlugte om te gaan. “Way to go Richie!” Die ander duiweboere probeer nog moedig om te probeer bybly. My ou vriend Ramond Bronkhorst wat ons al vooruit gegaan het, sou die woord “morsig” ook hier ingerol het om die moeilikheidgraad te beskryf.

Baie geluk aan die manne wat goed gedoen het en sterkte aan die manne wat gesukkel het die naweek. Tot volgende week dan, adios!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.