Dwelmmisbruik ʼn realiteit in Lephalale

LEPHALALE — Die eerste vergadering van rolspelers wat die dwelmgreep waarin baie plaaslike mense vasgevang is wil aanspreek, is Vrydag 1 Februarie 2019 by Mediclinic Lephalale gehou.

Die idee om ʼn groep mense bymekaar te kry om daadwerklik op te tree teen die dwelmprobleem in Lephalale en omliggende areas het ontstaan nadat ʼn hoërskoolleerder verlede jaar deur ʼn groep seuns aangerand is. Alhoewel die seun skoon getoets het vir enige dwelms, is daar by nadere ondersoek bepaal dat die aanranding na bewering dwelm- en bendeverwant was.

Volgens Dalene de Villiers, hospitaalbestuurder by Mediclinic Lephalale, het sy daardie dag, nadat die kind in die hospitaal opgeneem is, besef die probleem is groter as wat algemeen aanvaar word.

Dit is realiteit dat daar bendes in die omgewing werksaam is en dit loop meesal hand aan hand met dwelmgebruik wat weer gekoppel kan word aan mensehandel of sekswerk.

Volgens Karl Leonard en Danie Steenkamp van die Centre of Hope in Steenbokpan kan hulle sien hoe dwelmgebruikers se probleme jaarliks eskaleer. Die eerste sekswerker het onlangs by hulle ingeboek vir behandeling.

Daar is Vrydag tydens die vergadering gevra dat mense na vore moet kom wat ʼn rol kan speel en insette kan gee betreffende die dwelmprobleem in Lephalale en omgewing.

Steenkamp, wat reeds 13 jaar betrokke is by die Centre of Hope, sê ondervinding het hom geleer dat daar twee soorte benaderings nodig is om te werk met dwelm- of middelafhanklikes (middelafhanklikheid sluit oor-die-toonbank-medikasie in). Aan die een kant moet mens noodwendig baie streng wees, maar die menslike aspek moet ook ingebring word.

“Dit is ʼn veel wyer probleem as byvoorbeeld ʼn kind wat ʼn dwelmprobleem het – dit gaan oor die kind se houding en dissipline by die skool en by die huis. Hoe minder morele waardes ons het en hoe minder ons bid hoe meer gaan ons hierdie goed sien.

“Ons sit in ʼn samelewing waar dagga aanvaarbaar is. Ons sit met bekende mense wat hier aankom en dis aanvaarbaar want hulle mag dagga gebruik. Jy lees nêrens van die nadele nie. Die komplikasies en nadele word nie aangeraak nie. Dit is ewe skielik ʼn goeie ding. Dis vir ʼn kind moeiliker om nee te sê of ʼn besluit te neem om nie dagga te rook nie, want dit is aanvaarbaar. Dit word in die media voorgestel as ʼn goeie ding. Ons sien egter die ander kant …

“Mense leer hulle kinders as jy hoofpyn het, drink ʼn pil, as jy nie kan konsentreer nie, drink ʼn pil, as jy nie kan slaap nie, drink ʼn pil. Ons leer ons kinders dat daar ʼn pilletjie is vir elke probleem. Ons is besig om in ʼn kultuur in te beweeg waar die manier van oplossings in ʼn pil is, maar as dit oor dwelms gaan dan sê ons jy mag dit nie doen nie,” het Steenkamp gesê.

Leonard het uitgebrei dat dit nie net kinders is wat hierdeur geraak word nie – veral in Lephalale waar die man en pa van ʼn gesin vir lang tye alleen hier werk en bly en mettertyd verval in ʼn lewe van drank, dwelms en seks. Hy het ook gesê dat kinders by skole nie ingelig moet word oor die verskillende tipes dwelms nie, dit prikkel hulle nuuskierigheid en dan wil hulle dalk meer uitvind of dit beproef. Daar moet liewer op die gevolge en die realiteit gefokus word.

“Elke liewe kind wat by die sentrum uitkom sal sê hy/sy het aan die begin gedink hulle is anders – dit gaan nie beheer oor hom/haar kry nie. Dit gaan nie sy/haar lewe oorneem nie,” sê Leonard.

Daar is ʼn groot behoefte in die gemeenskap, raak asseblief betrokke indien jy ʼn bydrae kan lewer – in watter opsig ook

Skakel Dalene de Villiers by Mediclinic Lephalale by 082 417 9506 of stuur vir haar ʼn e-pos na Dalene.deVilliers@Mediclinic.co.za indien jy betrokke wil raak.

Die volgende vergadering vir rolspelers word Vrydag 15 Februarie 2019 vanaf 10:00 by Mediclinic Lephalale gehou.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.