Dwelms is krisis

Various drugs that were confiscated by members of the SAPS
Dwelms het ‘n krisis geword in Lephalale

Leoni Kruger
LEPHALALE — “Dwelms het ‘n krisis geword in Lephalale en dit neem geweldig toe. Daar is onder andere Nigeriërs betrokke en mense onder ons wat dit versprei. Ons kan met reg bekommerd wees oor die opwaartse tendens in Lephalale”. So het Thys Eloff, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) verlede Donderdag by die vergadering van die landelike veiligheidsforum (LVF) gesê.

 Volgens lt. Malesela, die nuwe sigbare bevelvoerder by Lephalale SAPD, is hulle bewus van die probleem en is daar ‘n spesiale span aangestel om dit te ondersoek. Hy het beaam dat daar Nigeriërs betrokke is wat dit in die dorp inbring, maar hulle kan dit nie op hulle eie doen nie. Hy het ook gesê dat Nigeriërs nie betrokke is by die vervaardiging van dwelms nie.
 Lt. Malesela sê verder dat daar onlangs mense by die TVET kollege gearresteer is en dat hy reken daar is ‘n goeie mark vir dwelms.
“Dit is moeilik om net op iemand af te storm en te deursoek. Ons moet redelik seker wees dat die persoon wel besig is om met dwelms handel te dryf of dit te gebruik. Daarom het ons informante nodig” sê hy.
 Dwelms wat algemeen plaaslik gevind word is Nyaope, Dagga, CAT en nou ook Mandrax. Daar was ook onlangs ‘n geval waar Kokaiën gekonfiskeer is.
 Lt. Malesela versoek die gemeenskap om op die uitkyk te wees vir enige verdagte optrede en om die polisie onmiddellik te skakel as hulle bewus is van enige onwettige middels wat versprei, verkoop of gebruik word. “Ons het almal kinders en ons moet hulle teen hierdie mense beskerm” sê hy.
 Volgens die Mieliestronk-webwerf is daar sekere algemene liggaamlike tekens te sien by iemand wat met dwelms deurmekaar is. Dinge wat lewenskwaliteit aansienlik kan benadeel. Hy/sy kan stadig of waggelend loop en ’n swak fisieke koördinasie hê; oë kan rooi en waterig wees, handpalms koud en sweterig, hande of kop of voete bewend; gesig kan opgeswel wees, opmerklik rooi of opmerklik bleek; kan baie naar wees, opgooi, baie sweet en baie hoes of snuif.
 Psigologies ontaard die dwelmgebruiker só dat selfs ’n hele persoonlikheidsverandering kan ondergaan. Persoonlikheidsteurnisse kan verskillende vorms aanneem, soos probleme om aandag te gee en vergeetagtigheid; uitsonderlike hiperaktiwiteit en praatlustigheid; ’n algehele gebrek aan motivering, energie en selfrespek, en ’n traak-my-nie-agtige houding; buierigheid, geïrriteerdheid of senuweeagtigheid; lawwigheid of ligsinnigheid; vervolgingswaan.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.