Dwelmverdagte vas na jaagtog

Leoni Kruger
LEPHALALE — Lephalale SAPD se K9-eenheid (honde-eenheid) het Woensdagoggend 3 Mei inligting ontvang oor ‘n dwelmhandelaar wat aktief is in die dorp. Hulle het die vermeende handelaar se selfoonnommer gekry en hom geskakel en CAT bestel wat hy in Lephalale dorp by ‘n afgespreekte plek moes aflewer.
Hy het egter een van die polisielede herken toe hy by die afgespreekte plek aankom en weggejaag.
Hy is deur lede van K9, Lephalale SAPD en die GPF agternagesit verby Lephalale Mall en terug in Troupandstraat. Niekie de Beer, eienaar van RMD RISK wat ontbied is vir bystand, het die verdagte geen stopteken of verkeerslig gehoorsaam nie en byna ‘n ongeluk veroorsaak. Hy is op die hoek van Troupand- en Mahemstraat deur middel van die “PIT manoeuvre” tot stilstand gebring. (Die PIT-maneuver of presisie-immobiliseringstegniek is ‘n taktiek wat gebruik word wanneer ‘n verdagte motor wegjaag en agtervolg word. Die motor wat volg dwing die vlugmotor om skielik sywaarts te draai wat veroorsaak dat die bestuurder van die voertuig beheer verloor en stop).
Die verdagte het blykbaar met die uitklimslag uit die voertuig dadelik gesê dat hy nie dwelms by hom het nie, maar die polisie het dagga in die voertuig gekry. Die pad wat hy gery het is ondersoek en die CAT wat bestel is, is in Troupandstraat opgetel.
Hy is gearresteer en na Lephalale SAPS se aanhoudingselle geneem. Die polisie het ook beslag gelê op sy voertuig.
Teen druktyd was die hofdatum nog nie bekend nie.
 (Die dwelmkwessie in Lephalale is tydens ‘n vorige GPF-vergadering bespreek en dit word gesien as ‘n enorme probleem. Mag hierdie verdagte nie net ook borg kry en weer deel word van die dwelmkringloop nie — Red)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.