EHS beloon by Bosveld Interhoër

LEPHALALE — Hoërskool Ellisras se leerders het verlede week met verskeie items aan die Bosveld Interhoër deelgeneem en die beloning is ‘n hele paar eerste plekke.
Erik van der Walt neem Maandag 7 Augustus aan die Interhoër-redenaars in Thabazimbi deel en hy word as wenner van die Senior Afrikaans voorbereide toesprake sowel as die algehele beste senior Afrikaanse Redenaar (voorbereid en onvoorbereid) aangewys. Die kompetisie bestaan uit Afrikaanse voorbereide en onvoorbereide toesprake vir seniors en juniors.
Volgens die beoordelaars was die standaard van die redenaars baie hoog en die kompetisie was straf.
Erik het die volgende dag boonop ook aan die landloopkompetisie deelgeneem en ses kilometer gehardloop. ‘n Man met ‘n lang asem!
Op Dinsdag 8 Augustus neem die landlopers van Hoërskool Ellisras aan die Bosveld Interhoër deel. Die juniors het vier kilometer en die seniors ses kilometer gehardloop. EHS was van die min skole wat vol landloopspanne ingeskryf het in al die afdelings.
EHS se gholfspelers het op 8 Augustus in die A-span-afdeling deelneem. EHS is een van net drie skole wie se spelers in die A-afdeling kon deelneem, want deelname was gegrond op ‘n enkelsyfervoorgee.
Die gholfers het nie teleurgestel nie en hulle wen die A-afdeling na 18 putjies. Die spelers is Gerhard Pepler, Christiaan Young, Janco Lötter en Divan Geldenhuys. Hoërskool Ellisras en Piet Potgieter eindig gelyk in ‘n eerste plek, waarna ‘n uitspeel per putjie deur een speler per span volg. Gerhard Pepler wen op die tweede uitspeelputjie en besorg die heel eerste plek vir Hoërskool Ellisras.
Op Woensdag 9 Augustus neem Hoërskool Ellisras se toneelgroep ook deel aan die Bosveld Interhoër toneel te Thabazimbi. Net vier skole uit dié streek kon ‘n toneel op die planke bring. ‘n Beste speler per skool word tydens die kompetisie aangewys en Tianca Engelbrecht word aangewys as EHS se beste speler. Hoërskool Ben Biljoen wen die kompetisie.
Die spelers sê dit was ‘n uitstekende leerskool en almal is baie optimisties en entoesiasties om op 23 Augustus aan die ATKV-toneelkompetisie te UNISA Little Theatre deel te neem.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.