EHS groet Sylvia

LEPHALALE — Die personeel en leerders van Hoërskool Ellisras het Sylvia Richards onlangs gegroet ná 13 jaar se diens.

Kollega Ria Botha het in ʼn afskeidsboodskap tydens ʼn spesiale funksie Vrydag 31 Mei vir haar gesê:
 “Ons het mekaar se lief en leed gedra in al hierdie jare. Baie dankie dat jy in hierdie tyd net jou heel beste vir die skool gegee het.

“Sylvia is uiters bekwaam, hardwerkend, kundig, toegewyd, lojaal en regtig die deugsame vrou van Spreuke 31. Sy het inderdaad gestreef na uitmuntendheid in alles wat sy aangepak het en altyd die ekstra myl geloop.

“Sylvia laat die sigbare bewys van haar harde werk agter – soos die opgradering van die skoolsaal waarin sy ʼn groot rol gespeel het en sy het ook ʼn groot aandeel gehad in die reël van suksesvolle gholfdae.

“Sy laat egter ook die onsigbare agter – ʼn sagte, sterk gees en ʼn aangename geur wat sy versprei het. Sy sal onthou word as ʼn vrou wat die Here dien.

“Sylvia het ʼn pos aanvaar as persoonlike assistent vir Don Emslie en hy kry net die heel beste werker – mag hierdie nuwe seisoen in jou lewe opwindend en opbouend wees! Ons bid jou net die seën van die Here toe!

“Hoërskool Ellisras groet jou nie – ons sê net sien jou weer”!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.