EHS-inbraak — gat deur muur na kluis

LEPHALALE — Daar is Dinsdag 3 Julie vroegoggend by Hoërskool Ellisras se administratiewe kantoor ingebreek en die verdagtes het ʼn tonnel van die kantoor na die instapkluis gegrawe.

Volgens Adriaan Joubert, skoolhoof, is dit redelik duidelik dat die inbrekers geld gesoek het wat hulle nie gekry het nie. “Ons hou nooit enige geld in die kluis nie,” sê hy.

Joubert sê Jan Bal, die skool se faktotum, was vroeg Dinsdagoggend op pad na die kantoor toe hy ʼn man sien weghardloop. Hy het dadelik onraad vermoed en die paniekknoppie gedruk wat die sekuriteitsmaatskappy ontbied het.

Sekuriteitskameras by die skool dui aan dat daar twee verdagtes by die skool was.

Volgens Joubert het hulle by een van die kantore aan die agterkant van die binneplein ingebreek. Hulle het ʼn steen deur die luik by Ontvangs gegooi waardeur hulle toegang tot die adminstratiewe kantoor gekry en ʼn gat deur die muur tot binne-in die kluis gekap het. “Hulle het niks anders gesteel nie – nie eers die rekenaars nie. Hulle was definitief ook nie agter vraestelle aan volgens sommige gerugte nie. Hulle het geld gesoek.

“Ons is besig om die terrein deur middel van vyf afsonderlike projekte op te knap en daar is baie beweging in die omgewing wat toegangsbeheer bemoeilik,” sê Joubert.

Die skool se alarmsisteem is intussen opgeknap en die beheerliggaam beoog addissionele sekuriteit en toegangsbeheer in die nabye toekoms.

Adjudant-offisier Frans Mokoena het die inbraak bevestig asook dat die verdagtes nog nie vasgetrek is nie en die saak verder deur die speurtak ondersoek word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.