EHS reg vir Interhoër!

LEPHALALE — Die leerders en personeel van Hoërskool Ellisras sien uit na die Interhoër 2020 wat Saterdag 29 Februarie by Hoërskool Nylstroom gehou word en daarom is hierdie week ’n geesvangweek.

Mogol Pos het gaan inloer by Adriaan Joubert, skoolhoof van Hoërskool Ellisras (verlede jaar se Interhoërwenners), om te hoor of die senuwees nog hou en hoe dit met die atlete gaan.

Volgens Joubert meen sommige mense dat Hoërskool Ben Viljoen van Groblersdal vanjaar ’n goeie kans staan om te wen, maar natuurlik sal dit wonderlik wees as EHS weer die wenbeker kan huis toe bring.

“Ons is baie opgewonde oor die komende Interhoër, alhoewel sekere van ons top-atlete geteiken en gewerf is deur ander buurskole. Van die ander skoolhoofde in die distrik weet presies hoe ek voel oor Ellisras se voedingsarea – dit is heilige grond. Jou voedingsarea moet gerespekteer word,” verduidelik Joubert.

Joubert sê hy maak egter nie verskonings nie. “EHS se leerders en atlete is in murg en been lief vir hulle skool en sal dus alles gee by Hoërskool Nylstroom – op én af van die veld,” sê hy.

Hy sê voorts hy is baie opgewonde oor die nuwe o. 14-groep wat vanjaar vir die eerste keer aan die Interhoër gaan deelneem en hy sien daarna uit om hulle deur die loop van hulle hoërskoolloopbaan dop te hou.

’n Paar atlete is beseer en die afrigters moes strategiese skuiwe maak, maar Joubert bedank mnr en mev Marx vir die kondisionering en rehabilitasie wat hulle met die atlete in die gimnasium gedoen het.

“Ons is opgewonde oor die toeskouers wat gaan sing – skole word ongelukkig beperk tot 200 toeskouers, maar ons kan nie wag nie. Ons sien ook baie daarna uit om die skool se nuwe kreet te hoor by die 57ste Bosveld-Interhoër!”

(Ouers kan Saterdag EHS se Facebook-blad dophou vir die skakel om die atletiekuitslae deur die loop van die dag te kry – Red)

Skoolaktiwiteite hou egter nie op na die Interhoër nie en EHS sien uit daarna om die leerders van Hoërskool Witteberg in Betlehem te ontvang op 6 en 7 Maart wanneer die Wintersport afskop.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.