Ek gáán kanker oorwin — Rina Coetzee

LEPHALALE — Oktober is Borskankermaand en Mogol Pos het met Rina Coetzee gesels. Sy is tans in remissie nadat sy verlede jaar met borskanker gediagnoseer was.

Die 55-jarige Rina is na 15 maande van chemoterapie en rekonstruksie terug op haar pos as geografieonderwyser by Hoërskool Ellisras. Ná haar pad met borskanker is sy oorweldigend dankbaar vir die voorreg om weer te kan skoolhou en haar passie uit te leef.

Rina se eerste kleinkind is verlede jaar op 7 Junie in die Netcare Femina Hospitaal in Pretoria gebore.

“Toe ons by die hospitaal uitstap, loop ons verby die lokaal waar mammografië gedoen word en my man moedig my toe aan om een te doen aangesien ek die vorige jaar se ondersoeke gemis het. Borskanker was die laaste ding waaraan ek gedink het en ek het geen knoppe of enige ander tekens gehad nie.

“ʼn Ruk daarna moes ek vir ʼn sonar gaan en toe sê die dokter dit lyk baie sleg en die kanker in my linkerbors het reeds versprei na my limfkliere.”

Rina het daarna vir drie biopsies gegaan en gehoor dat sy boonop HER2-positief was. ʼn Week later, op 3 Julie, het sy ʼn mastektomie ondergaan en dertien limfkliere onder haar arm is verwyder.

(HER-2 positief beteken sel-deling vind baie vinnig plaas wat veroorsaak dat die kanker baie vinniger kan versprei.)

Volgens Rina was daar geen ander keuse as ʼn volledige mastektomie en chemoterapie daarna nie. Sy het nie bestraling ontvang nie.

Haar hel van chemoterapie het op 12 Augustus 2019 begin.
 “My grootste vrees was dat my hare gaan uitval en dit hét ook. Presies twee weke na my eerste chemoterapiesessie!

“Die chemo wat ek gekry het, word die ‘Red Devil’ genoem. Dit maak letterlik alles dood. Jou naels breek en val af, mens se tande verswak en mondsere is algemeen om maar net ʼn paar newe-effekte te noem. Dit val siek en gesonde velle aan. Ek het net daar besluit om die ‘devil’ te verander na ‘angel” want ek gaan hierdie ding oorwin.”

Rina sê haar man en haar kleinkind was haar rede vir bestaan en sy het probeer om positief te bly deur dié reis met kanker. Haar man het seker gemaak sy eet gebalanseerde en voedsame kos, al was haar smaak aangetas en wou sy eintlik nie eet nie.
 “Ek wou net lê en was permanent moeg, lyfseer en naar. Dit was nie vir my ʼn maklike pad nie, daar was baie dae wat ek negatief was. Dit is nie lekker om met een bors te loop of vir jouself in die spieël te kyk nie. Jy sien die wanbalans. Al het ek aan die begin ʼn prostese gedra, kon mens nog steeds die verskil sien,” sê sy.

Rina sê die dokter wou nie dadelik ʼn rekonstruksie doen nie, juis omdat sy HER2-positief en die kanker reeds in fase 3 was.

Sy het egter op 19 Maart vanjaar ’n 13-uur-lange rekonstruksieoperasie gehad. Letterlik ’n week voor die COVID-19-pandemie SA getref het. Sy was vir vier dae na die operasie in die intensiewesorgeenheid waartydens sy doodstil op haar rug moes bly lê. Doodnaar van die narkose.

Sy moes al ʼn opvolgoperasie gehad het, maar dit was weens COVID-19 uitgestel en as alles volgens plan verloop sien sy die dokter op 23 Oktober vir die opvolgoperasie. “Hy het belowe dit is nie so ʼn groot operasie nie en dat ek binne ʼn week sal terug wees by die skool,” sê sy.

Intussen het haar chemo-sessies aangehou tot 20 Julie vanjaar en sy moes elke keer ʼn permit kry om oor die provinsiale grens te reis. Elke chemo-sessie was met ʼn week uitgestel vanweë haar lae immuniteit. Dit is waarom sy eers na 15 maande permanent kon terugkeer skool toe.

“Mens se brein raak mal as jy so lank by die huis is met jou gedagtes. Die chemo maak boonop jou brein dof en jy vergeet heeltyd goed.

“Kanker gaan my nie oorwin nie. As jy borskanker het, is die kans goed dat dit na ander plekke soos jou lewer, brein of longe, kan versprei, maar ek is nie bang daarvoor nie. Ek gáán hierdie ding oorwin.”

Rina bedank haar man, kinders, kleinkind, haar kollegas by EHS en haar familie en vriende wat haar deur dié tyd gedra en ondersteun het.

“Sonder die krag en genade van die Here en die liefde van my mense sou hierdie reis veel swaarder gewees het,” sluit sy af.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.