“Ek het geleer mense gee om”

LEPHALALE — “As ek iets uit hierdie hele nare ondervinding geleer het, dan is dit dat daar baie mense is wat vir my omgee”.

Só sê Bekker Pelser wie se huis op die plaas Pentonvill Woensdag 6 Januarie afgebrand het. Die plaas is sowat 100 km buite Lephalale op die Steenbokpan/Stockpoortpad geleë.

Bekker vertel daar het vroeër die middag, ongeveer 16:00, ’n ligte bui reën geval en iets het vir hom gesê hy moenie dorp toe ry nie. Maar toe die reën verby is, het hy besluit om tog te ry, want hy sou iemand help met bye.

“Jy vra jouself – moes ek nie maar gebly het nie? Die dominee sê dis ’n bestiering, want anders het ek dalk doodgebrand in die huis.”

Bekker het ongeveer 17:00 ’n oproep ontvang dat sy huis brand. Een van sy werkers het ’n slag gehoor (hy was so 200 m van die huis af) en gedink die kragboks is raakgeslaan. Toe hy sien die kragboks brand nie, het hy deur Bekker se kamervenster gekyk en gesien daar is vlamme teen die dak aan die binnekant van die kamer.

“Die werker het paniekerig geraak, in die bakkie gespring en na die bure gejaag. Daar aangekom kon hy hulle nie kry nie en hy het na die volgende plaas gery en hulp ontbied. Van die bure het probeer om van die meubels en ander besittings uit die huis te dra, maar die rook was so oorweldigend, dat dit amper nie moontlik was nie.

Bekker, wat nog steeds in die dorp was, het daarna sy broer, Douw, gebel, wat op daardie stadium in Steenbokpan was.

Bekker het op pad plaas toe vir Chris Erasmus gebel wat toe per radio hulp ontbied het.

Bekker vertel dat hy teen 180 km per uur plaas toe gejaag het en hy kon die gloed van die vuur reeds van ver af sien. Teen die tyd wat hy daar aangekom het, was daar reeds baie mense op die toneel wat probeer het om te help om die vlamme te blus. Die omgee van al die mense het hom toé reeds diep geraak.

“Niemand sou die brand in elk geval kon stop nie, want toe is my krag af en ons kon nie water pomp nie. Ek het boonop twee maande gelede ’n nuwe dak opgesit. Daar was sowat 70 ton gras op die dak.

Daardie gras het die Sondag na die brand steeds gesmeul.”

Volgens alle aanduidings lyk dit of die weerlig die nok by die hoofslaapkamerdak raakgeslaan het. Daar was volgens die werker ook ’n tweede harde slag wat waarskynlik die agterkant van die huis aan die brand laat slaan het.

“Douw-hulle het my Jack Russell en vyf kleintjies gered en die kluis se sleutel was gelukkig in my bakkie, so hulle kon ook van my gewere red.

“Aardse goed is presies wat dit sê, ek weet. Maar as mens so alles verloor het, is daar tog sekere dinge wat jy wens jy kon gered het. Soos die Bybel wat my pa vir my gegee en voor in vir my geskryf het. Mens kan dit mos nooit vervang nie. Kosbare hartsgoed.

“Ek onthou dat ek die oggend na die brand ’n sakdoek nodig gehad het – net om te besef ek het nie eers ’n sakdoek nie,” sê Bekker.

Bekker bedank almal wat dadelik ingespring en vir hom huisware bymekaar gemaak en geskenk het.

Hy sê ook dankie aan elkeen wat hom gebel het, boodskappe gestuur het of ’n draai by hom gemaak het. Dit het hom gedra en dit dra hom steeds.

Die goedheid van die mense en die genade van die Here sal hom altyd bybly.

Enigiemand wat ’n bydrae wil lewer – op watter manier ook al – kan Douw Pelser skakel by 082 820 5228.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.