“Ek moes kies”

Theo Pistorius se Cessna is waarskynlik afgeskryf nadat hy noodgedwonge in ‘n ander vliegtuig vasgevlieg het
Theo Pistorius se Cessna is waarskynlik afgeskryf nadat hy noodgedwonge in ‘n ander vliegtuig vasgevlieg het

Leoni Kruger
LEPHALALE — Theo Pistorius van Molalatau Lodge buite Lephalale het Vrydag 27 Augustus ‘n baie noue ontkoming gehad toe hy by ‘n vriend naby Vryburg gekuier het en dié se kliënte vir ‘n kort vlug in sy Cessna sou neem.
Volgens Theo sou hy en sy vriend drie kliënte vir ongeveer ‘n halfuur se vlug neem sodat hulle ‘n krokodil kon skiet. “Dit is ‘n moeilike, rowwe aanloopbaan en ek het vir myself ‘n halfpad-merk gemaak waar ek minstens 80 myl per uur moes haal sodat ek sou kon opstyg. Met die laaste afkykslag was my lugspoed 90 myl per uur en die vliegtuig moes opgestyg het. Ek was op daardie stadium sowat 200 m vanaf ‘n King Air-vliegtuig toe ek ‘n hobbel in die aanloopbaan tref. Ons was “airborn”, maar ons het te min “lift” gehad en die vliegtuig het teruggesak grond toe.
Theo sê hy moes blitsvinnig besluit. Om nie totale chaos te veroorsaak nie, sou hy óf moes mik om die vliegtuig net bo-oor die King Air se vlerk te lig, óf om liefs in die vliegtuig vas te ry as in die groep mense wat langs die vliegtuig gestaan het. “Ek was bang die vliegtuig verloor beheer en ek was bang ek tref die King Air reg van voor, dan was ons almal dood, of as ek die mense langs die King Air getref het, was daar seker 10 mense dood”.
Die King Air se een vlerk is getref en die Cessna se vlerk is afgeruk voor dit op die dak teen ‘n boom tot stilstand gekom het.
“Die oomblik toe die vliegtuig tot stilstand kom was my eerste gewaarwording dat ek leef. Ek het gewag vir die groot slag waarin ons moes sterf, en God het my daarteen bewaar. Ek het dadelik my passasiers gehelp om uit te klim en buiten ‘n paar snye en kneusplekke het niemand enige ander beserings opgedoen nie. Dit is ‘n wonderwerk” sê Theo.
Die vliegtuig word tans ondersoek om die skade asook moontlike probleme wat kon bydra tot die voorval, te bepaal. Burgerlugvaartowerheid was die dag ná die voorval op die toneel om hulle eie ondersoek te begin.
Theo sê hy het die insident sekerlik al 2 000 keer in sy kop herleef net om elke keer weer daarby uit te kom dat hy op daardie oomblik die beste moontlike besluit geneem het en dankbaar is dat almal die voorval oorleef het.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.