“Ek was in ‘n kinderhuis” — Yvette reik uit

Yvette
Yvette

Leoni Kruger
LEPHALALE — Yvette van Zyl weet wat dit beteken om in ‘n kinderhuis groot te word. Sy was van negejarige ouderdom af in die Abraham Kriel Kinderhuis in Potchefstroom.
Haar ma kon nie langer vir haar en haar sewejarige boetie sorg nie en haar pa het selfdood gepleeg. Dit was die beste plek vir hulle om na toe te gaan. Maar sy sal nooit vergeet hoe dit voel nie en sy het haarself toé al voorgeneem dat, wanneer sy die dag volwasse is, sy kinderhuiskinders naweke sal gaan haal sodat hulle kan voel hoe dit is om in ‘n normale huis te wees.
Tot onlangs nog het die lewe vir Yvette ‘n hele paar seer klappe toegedien, maar haar wil om uit te styg bo omstandighede het haar laat aanhou en uithou. Waar sy voorheen in ‘n huwelik was waar die mishandeling voortgegaan het (net soos haar pa ook haar ma mishandel het), het sy die moed gehad om weg te stap en oor te begin. Sy is onlangs getroud met “’n wonderlike man”, Johan van Zyl, en nou het sy die geleentheid om haar droom te bewaarheid. Om iets terug te gee aan dié plek wat vir haar as kind ‘n veilige hawe in ‘n deurmekaar wêreld was.
Yvette is druk besig om te beplan aan ‘n boeresportbyeenkoms wat ook sal dien as kerspartytjie vir die kinders van die Abraham Kriel Kinderhuis in Nylstroom (Modimolle). Die geleentheid word op Sondag 27 November by die kinderhuis gehou.
Kunstenaars soos Duan Coetzee, Karlien Husselman, Jason Lee en Anthony McGahee gaan ook deur die loop van die dag optree.
Daar is tans 166 inwonende kinders tussen die ouderdom van drie tot 18 jaar in die kinderhuis en Yvette wil graag sien dat elkeen van hulle op dié dag ‘n geskenk ontvang.
Die kinderhuis het ook tans ‘n groot behoefte aan enige skoonmaakmiddels en onbederfbare kos.
Daar is uit die aard van die saak baie dinge nodig om so ‘n dag te laat realiseer. Enige skenkings is welkom en Yvette het ‘n hele lys van benodighede wat, behalwe kersgeskenkies vir die kinders, ook kos en klein kersboompies insluit.
Yvette sê ten slotte dat die fratsdood van Jacques Louw vroeër vanjaar haar finaal laat besef het dat sy iets moet doen om ‘n verskil te maak in ander kinders se lewens. “Hy wou altyd hê ons moet stop by Abraham Kriel in Modimolle, want hy wou iets doen om die kinders te help. Hierdie is dus ook vir Jacques.
Skakel Yvette by 082 642 6084 of stuur vir haar ‘n e-pos na yvetteprinsloo185@gmail.com as jy betrokke wil raak by hierdie projek of enige navrae het.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.