El Bet-el open koffietoonbank

LEPHALALE — Die El Bet-el-gemeente het Sondag 20 Januarie ʼn nuwe koffietoonbank in gebruik geneem. Dié inisiatief is met ope arms deur die gemeentelede en besoekers verwelkom.

Hierdie projek was ʼn droom van pastoor Francois du Toit en nadat die droom ʼn week gelede met die gemeente gedeel is, het van die gemeentelede na vore gekom en hulp aangebied waarna die hele projek binne een week afgehandel kon word.

Die bestuursraad bedank almal wat ʼn bydrae gelewer het om dié droom ʼn werklikheid te maak waaronder Johan en Vera du Preez en Louis du Plessis.

Die gemeente bied Saterdag 2 Februarie vanaf 06:00 ʼn Manne-ontbyt in die kerk aan en pastoor Johan Steyn, voorsitter van die Familia Dei Netwerk, sal die manne toespreek. Almal is welkom en die koste beloop slegs R60.00 per persoon.  

ʼn Gratis Leierskaptoerustingseminaar word op dieselfde dag deur pastoor Steyn aangebied. Mense wat in leiersposisies is sal veral by dié onderwerp baatvind, maar enigeen is welkom om dit by te woon.

Besprekings vir beide bostaande geleenthede kan by die kerkkantoor by 014 940 0959 of by Theo de Villiers by 082 951 1320 gemaak word.

Die El Bet-el-gemeente beplan ook ʼn gholfdag by Mogolklub vir Werkersdag, Woensdag 1 Mei. Alle besighede of individue wat belangstel om betrokke te raak ten opsigte van borgskappe en donasies kan ook vir Theo de Villiers skakel.

Daar is elke Sondag om 09:00 ʼn erediens by die kerk en almal is welkom om dit by te woon. Skakel die kerkkantoor vir enige verdere navrae.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.