Ellisras Apteek beroof

LEPHALALE — Inbrekers het Sondagoggend 11 November rondom 01:50 deur ’n agterste badkamervenster van Ellisras Apteek in Lephalale toegang tot die apteek gekry en die kantoor geplunder.

Toegang tot die kluise is verkry deur middel van ’n slypmasjien

Volgens Delmarie van Zyl, eienaar van die apteek, het hulle Saterdagaand rondom 21:30 ’n sein van die alarm gekry wat aangedui het dat die alarm nog in orde was.

Toe Delmarie Maandagoggend 12 November die apteek oopsluit het sy ’n nota van ADT onder die deur gekry wat aandui dat die alarm omstreeks 01:50 afgegaan het. Die nota lees dat hulle die perseel besoek het nadat die alarm afgegaan het. Die voorkant van die apteek was ondersoek en die voordeur was toe en gesluit. Die agterste hek was gesluit, dus het hulle nie die agterkant van die apteek ondersoek nie en alles is in orde.

Die toneel in haar kantoor het egter ’n ander storie vertel.

Twee kluise is met ’n slypmasjien (grinder) oopgemaak, kaste was uitgegooi, deure is oopgebreek en stukke gebrande papier het rondgelê. (Kriminele hou blykbaar ’n papier voor die venster as hulle met die slypmasjien werk dan kan dit nie van buite af gesien word nie.)

Die diefwering van beide badkamervensters aan die agterkant van die gebou is uitgeruk en die rekenaars en WiFi-kabels is uit die muur geruk en afgeknip.

Volgens Delmarie was daar nie geld in een van die kluise nie. Die verdagtes het wel skootrekenaars, rekenaars, parfuum en ander items gesteel.

Volgens Niel van Zyl, Delmarie se man, kon die vingerafdrukdeskundiges baie duidelike vingerafdrukke kry.

Niel het ook laat blyk dat hulle baie ontsteld is oor die voorval aangesien hulle van ’n sekuriteitsfirma verwag om ’n sein te kry as die alarm se drade geknip word. “Moet hulle nie dadelik kennis kry as drade van ’n alarmstelsel geknip word nie?” vra hy.

Mogol Pos het ADT Lephalale geskakel vir kommentaar waarop hulle sou terugvoer gee oor presies hoe die stelsel werk en wat moontlik Sondagoggend kon gebeur het, maar teen druktyd was daar nog geen reaksie van hulle kant af nie.

Die polisie ondersoek die saak.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.