Ellisras Bosveldfees — ʼn kameleon van feestelike vrolikheid

LEPHALALE — Die Bosveldfees is soos ʼn kameleon wat gedeeltelik dieselfde bly en gedeeltelik vinnig van gedaante kan verander. Die 2018-fees gaan geen uitsondering wees nie en nuwe en beproefde dinge skep saam ruimte vir drie dae se lekkerkrytyd, aldus Dolla Kõltzow, feeswoordvoerder.

Die Bosveldfees-dagbestuur

En gepraat van kameleon! Feesgangers kan hul tande slyp vir die uitmuntende musiekvermaak wat in die groot tent aangebied gaan word. Donderdagaand tree die gewilde Ricus Nel, Adam Tas en Bok van Blerk op en Vrydagaand kom Fatman, die immergewilde Juanita du Plessis en Snotkop aan die beurt. Pieter Smit gaan Donderdag en Vrydag as anker optree. Zanele en die Matshepho-orkes is vir Saterdagaand bespreek en dit beloof om vermaak uit die boonste rakke én kos vir die siel te wees

Die Extreme Trail Bike show gaan vanjaar oor twee dae gehou word. Vrydag- en Saterdagmiddag se vertonings en toertjies beloof weer eens om asems weg te slaan.

Besoek gerus die Bosveldfees se webtuiste asook hul Facebook-bladsy en gaan loer vir die nuutste inligting.

ʼn Vrolike feesoptog, met ʼn karnavalatmosfeer ter bewusmaking van die Bosveldfees gaan, op 23 Junie vanaf Lephalale Mall tot by Mogolklub beweeg. Dit blyk dat inwoners en besoekers hulle kan voorberei vir ʼn feestelike Bosveldfees 2018!

(Begin solank al jou kleingeld in ʼn bottel of blik wegsit wat jy vir toegangsgeld en al die ander feestelikhede op 5, 6 en 7 Julie kan gebruik – Red.)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.