Ellisras VLU hou vergadering

Die Vroue Landbou Unie-dames van die Ellisrastak het op Donderdag, 15 April, weer eens heerlik saamgekuier.

Dit is altyd lekker vir die tak om ander gesigte by byeenkomste te sien, veral as ou vriende, soos tannie Hannetjie Erasmus, weer inloer. Hierdie maand het die dames geluister na Les Purchase wat gesels het oor sy interessante stokperdjie om bome te kloon. Die dames het geesdriftig saam gesels en ʼn paar was baie opgewonde om die kloonproses self te probeer.

Selfbemagtiging speel ʼn groot rol in die VLU en by die Ellisras tak is dit belangrik om ʼn veilige omgewing te skep waar dames hulle nuutgeleerde vaardighede kan oefen en eerlike, maar konstruktiewe terugvoer kan kry. Dit was dus groot pret om, onder andere Hanneline Joubert se Joep-Joeps te proe, en terugvoer te gee aan die dames oor hulle fotografieprojekte.

Ter afsluiting van die oggend het Ria Thuynsma ʼn naaldwerkdemonstrasie gelewer oor die korrekte manier om pas gewerkte nate te pars. Boonop het sy ʼn paar handige parstoebehore gewys wat sommer van ʼn ou tydskrif en oorskiet lap gemaak kan word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.