Ellisras VLU saam vir 2016

Ellisras VLU
Ellisras VLU se lede

LEPHALALE — Ellisras VLU se lede het hul eerste takvergadering vir die jaar op 21 Januarie gehou. Ds. Hennie Hoepfner het Matt. 6:22-23 voorgelees en beklemtoon hoe mens vandag lewe in ’n tyd waarin daar baie donker dinge gebeur wat dreig om mens se hart oor te neem. Maar mens moet weet dat dit Christene se doel is om God te verheerlik. “’n Lewe wat oorgegee is aan Jesus, wat gefokus is op Jesus, is die enigste lewe waar die lig die duisternis oorwin en een van die kenmerke van iemand wat Jesus se lig in sy hart het, is dat Hy soos Jesus sal optree” het hy gesê.
Ellisras VLU sê dat dit ook vanjaar hulle bede is dat hulle Christus se lig sal uitstraal en uitleef in hul daaglikse omgaan met ander.
Mariska Ehlers het haar verjaarsdag saam met die tak gevier en vir elkeen ‘n kolwyntjie met vonkelstokkies geneem.
Voorsitter Ria Strydom het voorbereid daar aangekom en vir elke lid ‘n boekie gegee waarin belangrike takinligting vervat is. Dit sluit onder andere huisreëls en kompetisieriglyne vir 2016 in. Elkeen het ook ‘n jaarbeplanner ontvang.
Die maand se demonstrasies is gedoen deur Martie van der Berg en Ria Strydom. Die kuns van die perfekte Bruintjie/‘Brownie’ is bespreek deur Martie en natuurlik kon die dames proe. Daarna het Ria die groep gewys hoe om ‘n Batenbergkoek en ‘petit fours’ te maak, terwyl almal heerlik gekuier het oor ‘n koppie tee en raad uitgeruil het.
Ellisras VLU se jaartema is “Werk saam vir ‘n beter toekoms”. Die dames sien uit om volgende maand meer te leer oor die skilder van landskapskilderye en die gebruik van piouter vir die maak van ‘n handspieël. Die volgende hoogtepunt is ongetwyfeld die Bosveldstreekskonferensie wat op 2 Maart gehou gaan word.
Skakel Ria Strydom by 084 520 0120 vir enige navrae of vir meer inligting

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.