“Enigiets is moontlik”

LEPHALALE — Ben Nortje (37), ʼn inwoner van Lephalale, skrik glad nie vir 1 000 km per fiets nie. Hy het onlangs die 1 060 km van Port Elizabeth na Kaapstad in 10 dae kafgedraf!

Ben voor hy met die lang pad na Kaapstad begin het

Ben sê die idee om so ver met sy fiets (geen luukse, duur fiets met “gadgets” nie) te ry, het ontstaan nadat hy die avonturier Riaan Manser se boek “Around Africa on my bicycle” gelees het en gewonder het of hy dit ook kan doen. Hy sou in elk geval die Argus gaan ry het en het net besluit om vroeër te gaan.

“Ek het 27 Februarie vanaf die OR Tambo-lughawe in Johannesburg na die Port Elizabeth (PE) Internasionale Lughawe gevlieg en op 28 Februarie vanuit PE na Kaapstad vertrek met my fiets,” vertel Ben.

Hy het op 10 Maart in Kaapstad gearriveer en op 11 Maart die Cape Argus gery.

Deel van die uitdaging van sy ekspedisie was dat hy glad nie vooruit oornagplek bespreek het nie. “Ek het net by een plek voor die tyd bespreek en dit is by Brakkeduine en toe is ek in elk geval die enigste persoon wat daardie aand daar geslaap het,” sê hy.

Ben het ʼn week vooraf sy roete beplan en het meesal die agterpaaie gekies, maar soms “gekroek” en teerpad gery.

Hy het geleer as jy regtig jou kop op ʼn ding sit, kan jy dit doen. “Dinge lyk soms onmoontlik, maar dit is moontlik”.

Nog ʼn bonus van sy ekspedisie was al die interessante mense wat hy ontmoet en met wie hy elke aand lekker gekuier het.

“Ek sal dit weer doen, dalk wil ek volgende keer van Lephalale af Durban toe ry,” sê hy.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.