Enterokokkus kry Ansoné nie onder nie

Ansoné by haar geliefde perd - “dis waar alles begin het” sê sy
Ansoné by haar geliefde perd – “dis waar alles begin het” sê sy

Leoni Kruger
LEPHALALE — Toe Ansoné Stanz verlede jaar op 12 Januarie by die perdekamp van haar splinternuwe perd afval en haar arm was so bietjie nerf-af, het sy nooit kon dink dat die stukkende plek op haar arm byna haar lewe sou kos nie. X-strale het gewys dat sy niks gebreek het nie, maar haar arm was baie geswel. Twee dae voor die skool sou begin vir die nuwe jaar is haar arm in ‘n stut geplaas wat sewe dae moes aanbly. Met die afhaal van die stut het die seerplek op haar arm ‘n groot swart roof gevorm. “Ek het my arm per ongeluk gestamp en die roof het afgeval waarna daar ‘n groot gat in my arm geval het. Die dokters het verduidelik dat die netweefsel van haar vel gebars het en dit is waarom daar sig uitloop” sê Ansoné.
Haar lang pad van in en uit die hospitaal het hierna begin. Die wond het telkens ontsteek, waarna dit in die teater skoongemaak moes word en die dooie weefsel verwyder moes word. Ansoné het 12 operasies in dié tyd ondergaan. Dit was ‘n hele ritueel – sy is geopereer om die wond skoon te maak, twee weke wag, die steke verwyder en dan binne-aarse antibiotika.
Ansoné sê die weefsel wou later nie meer heg nie, want daar was al te veel weggesny. Die dokters het besluit op ‘n veloorplanting. Vel is van haar pols verwyder en op haar arm oorgeplant. ‘n Rukkie na die veloorplanting het haar hele lyf begin jeuk en sy het ‘n koors ontwikkel. Op 12 Oktober verlede jaar is Ansoné weer opgeneem by ‘n hospitaal in Pretoria waar die wond weer skoongemaak is (die bakterie het onder die oorgeplante vel “gebroei” en weer posgevat). Dit was weerstandig teen antibiotika.
Na dié skoonmaak was Ansoné vir vyf dae in ‘n koma. Haar ma, Elmarie, sê sy was skaars terug in Lephalale toe sy die boodskap van die hospitaal af kry dat Ansoné sepsis opgedoen het en baie siek is. Elmarie verduidelik dat al haar organe opgehou funksioneer het, behalwe haar hart en haar brein. Haar liggaam het gesukkel om te veg teen hierdie dodelike bakterie, Enterokokkus. Na vyf dae het sy haar oë oopgemaak en stadig maar seker weer die herstelpad geloop.
Ansoné was verlede jaar in graad 11 en was altesaam 60 dae afwesig van skool. Sy het in graad 11 nie een eksamen saam met haar maats geskryf nie, sy het wel sommige toetse by die huis of by ‘n onderwyser se huis geskryf. Sy praat met groot lof en dankbaarheid teenoor die personeel van Hoërskool Ellisras wat haar in alle opsigte probeer tegemoetkom het. “Baie dankie ook aan meneer Louis Campbell wat altyd probeer het om ‘n plan te maak sodat ek my jaar kan voltooi” sê sy.
Sy het haar graad 11-jaar wel voltooi en is tans in matriek en pas klaar met rekordeksamen. Sy het tot dusver nie ‘n vraestel misgeloop nie en sy het intussen baie goeie nuus gekry dat sy keuring gekry het om volgende jaar B Cur (‘n graad in verpleging) by Kovsies te gaan studeer.
Elmarie sê as sy so terugdink aan hoe hulle jaar verlede jaar verloop het en hoe sy met tye gedink het sy gaan haar kind verloor, dan besef sy nou dat daar tog ‘n doel mee was. Ansoné het ‘n lewensbesluit geneem en sy is nou seker dat dit haar roeping is om ander te help soos hulle haar gehelp het en steeds doen.
Ansoné het vroeër vanjaar ‘n blasie op haar enkel opgedoen as gevolg van ‘n stewel wat haar geskaaf het en dié sukkel ook om te genees. “Dit het dieselfde swart roof gemaak, maar die dokter sê dit is nie dieselfde bakterie wat ek in die wond op my arm gehad het nie. Teen druktyd was hulle egter besig om te beplan wanneer sy teater toe kan gaan om die wond skoon te maak en ‘n veloorplanting te doen. Natuurlik vóór die matriekeindeksamen op 24 Oktober begin.
En dan wag die universiteitslewe vir Ansoné. ‘n Meisie met soveel deursettingsvermoë sal van enige kursus ‘n sukses maak.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.