Erg gebrand — help asb vir LJ

LJ de Beer se hande het erg gebrand

LEPHALALE — Die 25-jarige LJ de Beer was Saterdagaand 21 September in Lephalale om sy ouma se verjaarsdag by sy ouers se huis net buite Lephalale saam met sy familie te vier, toe hy tydens ’n fratsongeluk in die braaivleisvuur op die grond geval het. Sy hande en linkerbeen en -voet het gebrand.

LJ voor die ongeluk

Volgens sy verloofde, Zanté Grobler (25), het sy nie die naweek saam met hom Lephalale toe gegaan nie, want sy moes studeer.

“Die familie het vleis gebraai en ’n groot vuur gemaak. Nadat almal reeds gaan slaap het, het hy en sy neef nog by die vuur bly sit. Sy neef het ook later gaan slaap en die volgende wat LJ kan onthou is dat hy in die vuur was.

“Sy ma, Marinda (49), het wakker geword en iemand hoor skree, maar dit het vir haar ver geklink. Hy het steeds om hulp geroep en toe sy die deur oopmaak het hy daar gestaan. Sy het verskriklik geskrik en sy pa, Mannetjie (54), het sy hande en voet met koue water probeer lawe. Hulle het daarna met hom na Mediclinic Lephalale gejaag waar hulle sy wonde behandel en vir hom iets gegee het vir die pyn,” vertel ’n duidelik geskokte Zanté.

“LJ moes na Mediclinic Muelmed oorgeplaas word, maar omdat hy nie ’n mediese fonds het nie, en daar nie ’n ambulans beskikbaar was om hom Pretoria toe te neem nie, het sy pa hom self na Steve Biko Hospitaal in Pretoria geneem. Daar aangekom is hulle weggewys omdat die hospitaal nie ’n brandeenheid het nie en hy moes Kalafong Hospitaal toe gaan,” sê Zanté.

Volgens haar is die behandeling, higiëne en sorg in Kalafong nie na wense nie en moes sy ’n vriendin van haar ouma (wat ’n gesaghebbende posisie by die hospitaal beklee) skakel voordat LJ ’n skoon bed gekry en sy medikasie gereeld ontvang het.

Teen druktyd het die familie probeer om hom oorgeplaas te kry na Chris Hani Baragwana Hospitaal in Soweto, waar daar blykbaar ’n uitstekende brandeenheid is.

Dit was ook teen druktyd nie duidelik watter graad die brandwonde op sy hande is nie, die familie het nog gewag vir ’n verslag van die dokters af. Volgens Zanté het hy sover vasgestel kon word tweedegraadse brandwonde op sy linkerbeen, -boud en -voet opgedoen.

Zante by LJ in die ambulans

Beide LJ en Zanté het in 2012 gematrikuleer aan die Hoërskool Ellisras en LJ se ouers woon steeds in Lephalale. Hulle het 2017 verloof geraak en beplan om in Oktober 2020 te trou.

Zanté het in Julie vanjaar die volgende boodskap vir LJ op Facebook geskryf om weer eens haar liefde aan hom te verklaar:
Liefde is …
Die oggendlied van die tortelduif,
Met jou hande styf om my lyf,
Met jou oë, jou mond,
Jou drome deel …
Elke wens saam met jou verbeel.
Enigiemand wat bereid is om ’n bydrae te lewer, kan dit in die volgende rekening inbetaal:
LJ de Beer Trustrekeningbesonderhede:
Rekeningnaam: Phillip Smith Prokureurs, ABSA Bank, rekeningnommer: 4049517074, takkode: 632005, verwysing: PP5894 deBeer.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.