Ervaring van ʼn leeftyd

LEPHALALE — Dewald en Erika van Zyl van Lephalale is nie bang om ʼn uitdaging aan te pak nie! Hulle het verlede jaar vir 25 dae hard gewerk aan ʼn huis in Durbanville en baie geleer oor mense en hulle dinge.

Die Van Zyls het in 2016 ingeskryf vir ʼn kompetisie, Fixit with Flair, ʼn doen-dit-self-uitdaging waar jy 60% van die restourasies self moes doen. Hulle het een van die eenhede by hulle gastehuis in Prins Albert self gerestoureer, ingeskryf vir die kompetisie en die derde plek losgeslaan.

Terugskouend het dié kompetisie gelei daartoe dat ʼn tydskrif hulle in 2017 genader het en gevra het of hulle sou belangstel om aan ʼn realiteits-TV-program deel te neem. Dié program was ook ʼn inisiatief van Tuis-tydskrif en die TV-kanaal VIA, waar drie pare ʼn huis moes restoureer.

Hulle twee sê nooit nee vir ʼn uitdaging nie en na ʼn glasie wyn het hulle genoeg moed gehad om ʼn video van hulleself (ʼn vereiste om in te skryf) in te stuur.

Daar het maande verloop en die twee sê hulle het al vergeet dat hulle ingeskryf het toe Dewald ʼn oproep ontvang van Media Club Production met die nuus dat hulle een van die drie paartjies is wat gekies is om aan die reeks deel te neem. “Dit was die begin van een van die opwindendste, malste, mees uitputtende en fantastiese ervarings van ons lewe,” sê hulle.

Die reeks waarvan hulle deel is, se naam is 123Fixit.

Hulle is in Oktober 2018 vir twee dae Kaap toe om die eerste episode te gaan skiet. Die huis wat hulle gerestoureer het is in Durbanville. “Oor die twee dae het die deelnemers mekaar vir die eerste keer ontmoet en die vertrekke wat ons moes restoureer is aan elke paartjie toegeken. Elke paartjie kry ses vertrekke om te doen. Ons het twee ure kans gehad om ons vertrekke te verken en die eienaar te ontmoet. Sy het in die tydjie haar ‘mood boards’ met ons bespreek sodat ons ʼn idee kon kry waarvan sy hou en waarvan nie. Vir die volgende maand het ons dag en nag gewerk om ʼn voorraadlys saam te stel. Hierdie voorraad is vir ons bestel en dis wat ons gehad het om mee te werk. Dis mal! As jy ʼn foutjie maak gaan dit jou inhaal … dit is mos hoe goeie realiteits-TV werk,” verduidelik Erika.

Hulle sê dit was ʼn reuse uitdaging omdat hulle 2 000 km weg was met beperkte winkels tot hulle beskikking. Hulle mag slegs voorraad vanaf die borge bestel het en hulle kon geen meubels koop nie – alles moes herwin word uit dit wat op die eienaar se erf was.

Hulle het amptelik op 19 November 2018 vir hulle eerste van 25 dae op die stel aangemeld – die stel was die huis wat hulle moes restoureer. “Ons is begroet deur ʼn groep mense met kameras, klanktoerusting en ligte. ʼn Hele nuwe wêreld vir ons. Van daar af was ons nooit weer alleen nie,” sê Erika.

Erika lag op die vraag of daar baie tonele was wat hulle moet oorskiet. “Ja, aanmekaar,” sê sy.

ʼn Tipiese dag op stel het begin met ʼn ontbyt om 07:00 by die gastehuis waar hulle gebly het. Daarna is hulle met ʼn bussie na die perseel geneem en die klank is elke oggend stiptelik om 09:00 opgesit. Dan is daar nooit weer stilte totdag die dag verby is nie. “Elke span het ʼn kamera- en klankman wat oral saam met ons beweeg en ALLES afneem wat jy sê en doen,” sê Erika.

Een van die uitdagings was om ʼn vertrek in vier dae te voltooi (en daar was ses vertrekke vir hulle twee om te voltooi).

“Dit is ongelooflike harde werk en ons moes alles self doen. Jy kon wel ʼn arbeider vir 20 dae bespreek om te help met gespesialiseerde werk soos byvoorbeeld om te pleister. Op die eerste dag van elke uitdaging kon jy werk tot 13:00 en dan moes ons aanmeld vir ʼn kitsuitdaging waar ons ʼn item gekry het om in twee ure te maak. Daarna moes elke span die ander spanne se kitsprojekte evalueer en alles word afgeneem. Jy kon dus eers weer so 17:00 begin werk en teen 18:00 was dit ‘tools down,’” vertel sy.

Sy sê die derde dag was die eerste keer wat hulle die hele dag kon werk – maar natuurlik met ʼn kamera in jou gesig.

Die spanne kon een aand per uitdaging oortyd werk mits al drie spanne ooreenstem dat almal werk. Erika sê dit was hulle lewenslyn want op dié aande kon hulle tot 22:00 werk.

Die vierde dag was absolute chaos – ons kon 09:00 begin werk en die beoordelaars was al 12:00 daar om te beoordeel. Elke span se vertrek is dan beoordeel en elke span moes ook die ander spanne se werk bespreek.

Ons was gewoonlik teen dié tyd fisies gedaan net om klaar weer te stres oor die volgende uitdaging. Die uitslae van elke uitdaging is laat die middag bekendgemaak gedurende ʼn klein seremonie. Ek en Dewald het ʼn reëling gemaak dat ek gewoonlik hierdie middag gebruik om te werk aan ons geheime projek en hy begin met voorbereiding vir die volgende uitdaging. Ons het Maandag tot Saterdag gewerk en net Sondae afgekry. Dan was ons doodmoeg,” sê Erika.

Hulle het baie goed oor die weg gekom met hulle mede-deelnemers. “Die bemanning en die deelnemers was almal jong mense met die ongelooflikste werksetiek – ons is uitmekaar as vriende,” vertel Dewald.

Erika sê hulle het geweldig baie geleer – ook oor hulleself. Ek en Dewald het geleer dat ons regtig ongelooflik baie kan hanteer in uitdagende omstandighede en dat ons albei ʼn sin vir humor kon behou. Ons kon lag vir onsself. Ons het geleer dat die filmbedryf, iets waarvan ons niks geweet het nie, ʼn baie uitdagende bedryf is. Dat hierdie mense vreeslik hard werk. Dat hulle nooit kla nie en alles met ʼn glimlag doen. Hulle word geweldig onderskat. Ons het ook geleer dat mens geen kans moet laat verbygaan nie, gryp elke geleentheid met albei hande aan.”

Erika sê die lekkerste deel van die hele ervaring was om na elke uitdaging doodmoeg terug te staan en met verwondering te kyk na wat hulle vermag het.

“Ons het as ‘ryker’ mense uit die ervaring gestap. Jy het net een lewe – leef dit!”

123Fixit se eerste van 13 episodes word Donderdag 28 Februarie 2019 op VIA, kanaal 147 uitgesaai.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.