Erwe is skuilings

Slange is veral die afgelope tyd baie aktief, sê slangvangspesialis Marius Koekemoer.

Volgens Marius moes hy in drie weke ongeveer by dertig plekke reptiele verwyder. Die meeste was slanginsidente, maar hy moes ook vier likkewane verwyder.

Marius glo dat die reënweer veroorsaak dat slange vanaf die rivier en veldjies woongebiede binnedring vir skuiling. Slange skuil nie net in buitegeboue, afdakke, rommelhope en pakplekke nie, maar word gereeld in huise, winkels en kantore aangetref.

Marius was die afgelope tyd vier keer gevra om by hospitale dokters te help om die soort slange te identifiseer.

Marius het ook ʼn foto van ʼn pasiënt se been van ʼn dokter van Thabazimbi gekry, en hy kon daarvolgens bepaal dat die bytplek daarop dui dat dit deur ʼn Mosambiekse spoegkobra veroorsaak is. Dié pasiënt is in haar bed gebyt.

Slangbyte in ons area is in die meeste gevalle Mosambiekse spoegkobras. Marius sê hy weet van minstens 28 gevalle wat die afgelope vier jaar in Lephalale en Thabazimbi voorgekom het. Hy sê in meeste Mosambiekse spoegkobragevalle was die slagoffer in die bed. Addisioneel tot dié byte kom daar ook spoeggevalle voor. Baie katte en honde word gespoeg. Die Mosambiekse spoegkobra is ons grootste probleem, veral omdat hulle baie giftig is, sê Marius.

Ons verneem daar was ʼn geval van ʼn luislang wat ʼn sekuriteitswag as ʼn prooi gesien het en sy tande ingeslaan en begin krul het. Volgens Marius is luislange nie giftig nie en hulle eintlike doelwit is om om hul prooi te krul en vinnig dood te druk. As ʼn luislang sy tande inslaan en die persoon skrik en ruk weg kan dit oop wonde veroorsaak wat steke benodig.

Marius doen ʼn beroep op mense om nie self slange te probeer vang, of van kant te maak nie, al lyk die reptiele onskuldig.  

Dit kan gevaarlik wees en in sekere omstandighede kan dit hospitalisasie of fataal wees. Kry eerder ʼn professionele persoon.

Marius kan gekontak word by 072 174 6970. Sy uitroepkoste en betaling kan met hom uitgeklaar word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.