Familiedag eindig in nagmerrie

LEPHALALE — Wat vir die Van Staden-familie ʼn heerlike familiedag moes wees, het geëindig in ʼn nagmerrie toe JP van Staden (47) deur ʼn werker van ʼn buurplaas met ʼn mes gesteek is. JP is ’n onderwyser by Laerskool Ellisras.

JP ná die nagmerrie-voorval

PT van Staden, JP se broerskind, vertel dat hulle Saterdag 20 April ʼn familiebyeenkoms gehad het op die plaas Wellington. Meer as 20 familielede het die geleentheid bygewoon.
“Ons het so net na 19:00 teruggekom by die huis en pas die perde afgesaal. Ek was besig om op my foon te praat in die huis toe my vrou, Charlene, vir my sê daar is moeilikheid buite,” sê PT.

Een van PT se werkers het by ʼn werker op die buurplaas gaan kuier en hulle het na bewering gedrink, dagga gerook en stry gekry. PT se werker het blykbaar vir die buurplaas se werker gesê hy gaan vir PT roep om hom te help, waarop dié geantwoord het dat hy nie bang is vir PT nie. Al sy mede-werkers het vir hom gesê hy moenie gaan moeilikheid maak nie, maar hy het oorgestap na PT-hulle toe.
 Toe Charlene die man sien het sy vir JP gevra om te hoor wat hy wil hê terwyl sy vir PT gaan roep het.

“Die man het vir JP geskree en JP het vir hom gevra om die plaas te verlaat. Hy het ʼn mes uitgepluk en JP se ken en kaak raakgesteek. Volgens PT het die man gemik vir JP se keel, maar hy het gekoes. “Almal het begin skree en ek het vir hom gevra wat maak hy, waarop hy probeer het om my ook met die mes te steek,” sê PT.

Hy het die mes wild in die lug geswaai en PT kon daarin slaag om hom aan die arm te gryp en die mes by hom af te vat. Hy het die mes op die gras gegooi en die verdagte op die grond vasgedruk.

Volgens PT het die polisie eers na meer as twee ure by die toneel opgedaag. Lede van die GPF is ook na die toneel ontbied.

ʼn Saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer is by Lephalale Polisie geopen, maar volgens PT gaan dit verander word na poging tot moord op grond van die dokter se verslag.
 “Dié voorval is net weer vir ons ʼn bevestiging dat ons altyd paraat moet wees,” sê PT.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.