Feesseisoen — kom weer by mekaar uit

LEPHALALE — Die einde van die jaar is om die draai. Jy het allerlei onnodige aankope gedoen op Swart Vrydag, jou geld is min en die feesseisoen is so naby jy kan dit al voel.

Dr Karel Botha sê sit neer jou selfoon en praat vir ‘n slag met mekaar

Jare gelede voor selfone, sosiale media en die geweldige druk om te presteer of aan dieselfde standaarde as jou Facebook- of Instagram-vriende te voldoen, was die Kersvakansie of feesseisoen iets waarna mens dwarsdeur die jaar uitgesien het. Of dit nou ’n vakansie by die see of elders was, dit was iets wat die gesin saam geniet het en die pret het reeds voor die ryery en vakansie begin.

Geluk en vrede was ’n gegewe.

Ma het maande voor die tyd al begin kleinkoekies bak. Vlakoekies, gemmerkoekies (veral vir die kinders wat karsiek word), hawermoutkoekies, koekies met vulsels, koekies sonder vulsels. En beskuit. Karringmelkbeskuit.

Die lang pad word voorbereid aangepak.

Daar was kort-kort gestop vir padkos eet by die bankies en tafeltjies langs die hoofweë. Dit was skoon en veilig om daar te stop.

Die padkos was ’n hoofstuk op sy eie. Gekookte eiers, koue hoenderboudjies, broodjies met tamatie en kaas (hoe later hoe papper die broodjies van die tamatie).

Is daar nog mense wat met vakansie gaan en padkos langs die pad eet of het die finansiële resessie en die kompetisie met ander om volmaak te wees ons al so geknel dat dit net nog ’n stresvolle ervaring is wat voorlê?

Die feesseisoen word ook gekenmerk as ’n seisoen van depressie. Mense wat alleen is sien op daarna. Vir sommige mense is dit ’n tyd van verlange, dalk is die vooruitsigte vir ’n werk in die nuwe jaar nie so goed nie. Daar is heelwat ouers wie se kinders in die buiteland woon en werk en wat eenvoudig nie die finansies het om elke jaar saam te kan kuier nie.

Mogol Pos het gaan kers opsteek by dr Karel Botha, sielkundige in Lephalale en vir hom gevra wat kan mens doen om die druk te verlig voor en tydens die feesseisoen.

Wat kan mens doen om jou fut terug te kry?

Dr Karel sê die meeste mense het vergeet wat dit beteken om goed te wees vir hulleself en dit is nie nodig om êrens heen te gaan nie, daar is ’n paar dinge wat gesinne tydens die vakansie kan doen om weer bande te versterk en jou siel en liggaam te laat rus.

“Bederf jouself gereeld met dinge wat nie geld kos nie, soos ’n lekker bad by kerslig met jou gunsteling musiek in die agtergrond.

“Sit jou selfoon af as jy by die huis is en leer weer om met mekaar te gesels. Mense skeep mekaar af. Nou hoe maak mens as jy met vakansie is, jou selfoon is af en daar is nood in die familie? “Die polisie sal jou wel opspoor,” sê hy.

“Mans voel bedreig en afgeskeep omdat hulle vroue die hele tyd besig is met die selfone en andersom. Kinders voel afgeskeep want hulle word nie meer gehoor nie. Jy gryp eerder na jou selfoon in die oggend as jou oë oopgaan as na jou Bybel,” sê dr Karel.

Hy waarsku dat alle dinge wat jou van jou privaatheid kan beroof, vermy moet word.

Laastens, rus, drink vitamienaanvullings en moenie by die TV eet nie. Dis taboe!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.