Francois groet die klub

LEPHALALE — Mogolklub het Woensdag 26 Junie tydens ‘n intieme geleentheid afskeid geneem van Francois Badenhorst wat vir die afgelope 28 jaar in hul diens was. Hy het amptelik op 31 Julie sy amp neergelê. Kollegas, vriende, familie en mense met wie hy deurentyd deur middel van sy werk te doen gehad het, het die funksie bygewoon.
Francois het in 1975 by die destydse Iscor in Vanderbijlpark as ‘n vakleerlingpasser begin werk.
Gedurende 1980 skuif hy na RPM in Rustenburg en in 1982 sluit hy by Iscor Thabazimbi aan as passer en hy doen ook instandhouding van gholfbaantoerusting. Francois besluit om die Mogol se water te kom drink en begin in 1989 by Mogolklub.
Volgens dr Neels Gerber, algemene bestuurder by Mogolklub, het Francois gedurende sy dienstydperk vele rolle by die klub vertolk. Hy was dieselwerktuigkundige, landskapargitek, instandhoudingsbestuurder, planmaker, besproeiingspesialis, slangvanger, plant- en dierkundige en tong in die kies ook soms sielkundige.
Francois was ook die perkemeester in 2008 en 2009 toe Mogolklub se gholfbaan onder die Top 100-gholfbane in Suid-Afrika gereken was volgens die tydskrif Golf Digest.
Oor die jare was Francois ‘n aktiewe lid van die skiet-, hengel en gholfsubseksies by die klub. Neels sê dat Francois gelukkig nie die dorp verlaat nie en hy sal aanvanklik op bystand wees vir raad en inligting.
Neels het met ‘n aanhaling uit die boek How to retire Happy, Wild and Free van Ernie Zelinski afgesluit: “Voluntary early retirement gives you a chance to pursue new areas of study, work part-time in an area that interests you, or move you to a warmer climate. It’s a great opportunity to pursue your goals and dreams while you are still young, energetic, and healthy enough to enjoy them. In addition, retirement may be your last shot at being the person you would like to be.”
Francois het, na die oorhandiging van ‘n baie nuttige afskeidsgeskenk, elkeen wat op een of ander tyd in sy lewe vir hom iets beteken het van harte bedank.
Die aand is gesellig afgesluit met ‘n heerlike ete.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.