Fratsongeluk

IMG-20160718-WA0010

Leoni Kruger
LEPHALALE — Jacques Louw (10) het Vrydagaand omsteeks 24:00 in Mediclinic Lephalale gesterf nadat hy vroeër die aand in ‘n fratsongeluk deur ‘n maat met ‘n mes in sy hart gesteek is.
Volgens Jacques se ma, Ruth, het sy Vrydagaand al reggemaak om te gaan slaap toe die bure haar omstreeks 22:00 kom roep en sê het sy moet soontoe gaan want Jacques het seergekry. “Toe ek by die huis instap het ek ‘n groot plas bloed op die vloer in die gang by die kombuis sien lê. Jacques het in die bad gelê met ‘n sny in sy bors wat ontsettend gebloei het. Hulle het probeer om die bloed in die bad onder beheer te kry, maar dit was te veel. Ek het besef my kind moet dringend mediese hulp kry en ons het met hom Mediclinic toe gery.
By die hospitaal het die ongevalle-personeel hom dadelik gevat en vir hom suurstof gegee. Hy het gesukkel om asem te haal, maar volgens Ruth was hy die hele tyd by sy bewussyn terwyl die dokters hom probeer stabiliseer het. “Hulle het bloed getrek en allerhande toetse gedoen en die plek op sy bors doodgespuit. Die dokters het aanvanklik gedink die mes was net deur sy ribbes en spiere en hulle wou die aar afbind om die bloeding te stop sodat hy kan stabiliseer waarna hulle hom na Muelmed in Pretoria sou oorplaas. Die bloeding wou egter nie stop nie” sê Ruth.
X-strale het kort daarna gewys dat die buitekant van sy hart wel beskadig is en hy is kort daarna oorlede.
Ruth sê die fratsongeluk het gebeur toe Jacques in ‘n mes hardloop waarmee sy maat suurlemoene gesny het om in hulle koeldrank te gooi.
Die maat se ma het vir Mogol Pos gesê dat Jacques baie gereeld by hulle gekuier het en dat die twee groot maats was. “Dit het letterlik binne sekondes gebeur. Die een oomblik het hulle nog gespeel en die volgende oomblik het my kind my kom roep om te sê Jacques is gesny. Ek het nie vir ‘n oomblik gedink die sny is in sy bors nie. Toe ek in die kombuis kom toe sien ek net hoe staan Jacques in ‘n plas bloed” sê sy.
Sy sê sy weet nie hoe gaan hulle ooit hierdie trauma verwerk nie – “ek het altyd vir my kind gesê die ergste ding wat met ‘n ma kan gebeur is as jou kind doodgaan. Nou het dit in ons huis gebeur”.
Ruth sê sy is glad nie kwaad nie, want Jacques sou wou gehad het dat sy dit aanvaar. “Dit gaan oor Jacques. Niks gaan hom terugbring nie en dit kon met enigiemand gebeur het” sê sy.
‘n Roudiens word Donderdag om 11:00 vanuit die El Bet-el AGS-kerk In Onverwacht gehou. Mense wat dit wil bywoon kan reeds vanaf 10:00 daar wees aangesien boodskappe op die kis geskryf kan word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.