Gaan rommel wen?

LEPHALALE — Mogol Pos ontvang daagliks klagtes oor die haglike toestand van die dorp. Een van die groot sondebokke is die storting van rommel op leë erwe. Bourommel, tuinvullis en huishoudelike vullis word eenvoudig by die naaste leë erf afgelaai en dan word die probleem die grondeienaar s’n.

Volgens Astrid Basson, DA-raadslid, kan grondeienaars met tot R1 000 beboet word as die erf onnet en vol rommel is. Grondeienaars woon baie keer elders en dit is vir hulle ʼn geweldige probleem om beheer uit te oefen en die probleem aan te spreek.

Volgens Astrid het heelwat inwoners aan haar genoem dat hulle nie die vullis stortingsterrein toe wil neem nie, omdat hulle dan daarvoor moet betaal.

“Dit is nie so nie. Daar is nog geen weegbrug by die stortingsterrein nie en vullis word afgelaai sonder om te betaal daarvoor. Dit is elkeen van ons se plig om ons rommel by die stortingsterrein af te laai of om iemand anders te betaal vir die diens.

“Verskeie grondeienaars is reeds beboet met R1 000 elk oor hulle rommelbesaaide grond en die munisipaliteit is besig om te kyk na boetes vir mense wat gesien word terwyl hulle rommel op leë erwe aflaai,” sê Astrid.

Thys Eloff, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en lede van die GPF het Donderdag en Vrydag, 20 en 21 September, self ingespring en die area vanaf die Beska-grondpad tot by die Stockpoort T-aansluiting skoongemaak. “Ons het 150 sakke vullis bymekaargemaak,” sê hy.

 “Hoekom wag ons altyd vir iemand anders om te help? Dit begin by jou en jou direkte omgewing, as elkeen van ons iets begin doen aan die situasie en ophou om te wag dat iemand anders aksie neem, sal dit baie makliker wees om probleme op te los,” het Eloff afgesluit.

Verskeie rolspelers (instansies en individue) in die dorp het intussen besluit om saam te staan in die stryd teen die rommeloorlog. Daar is ʼn komitee gestig en hulle sou verlede week ʼn vergadering met die munisipale bestuurder gehad het, maar volgens inligting het die vergadering nooit plaasgevind nie.

Mogol Pos het van die komiteelede geskakel vir kommentaar, maar hulle was nie beskikbaar nie. Meer inligting hieroor sal later bekendgemaak word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.