GameWays — teenwildstroopstudente maak verskil

BESKA — Die boere in die Beska/Palala en York gemeenskappe, oos van Lephalale, ook bekend as B.O.G. (Beska-ondersteuningsgroep) het onlangs hande gevat met “GameWays Anti-Poaching NPC”, ’n niewinsgewende opleidingsinstansie in Steenbokpan.

Die boere in dié gebied gaan tans swaar gebuk onder wildstropery en diefstal. Dit beslaan ’n area van 165,000 ha en bestaan uit amper 200 plase. Die area se grense is die Phalalarivier (Oos), die Markenteerpad (Suid), die Mogolrivier (Wes) en die Limpoporivier (Noord).

GameWays het betrokke geraak deur vir twee maande inligting in te samel oor die misdaadbedrywighede en -tendense in die gebied.

Daarna het GameWays ’n groep van 16 teenwildstroopstudente en drie instrukteurs vir elf dae na die gebied geneem om, as deel van hulle finale praktiese uitplasingsfase vir die kursus, die boere te help met misdaadbekamping.

Die boere in die gebied het die aksie ondersteun en mildelik bygedra met voedsel en verblyf vir die jong manne en Matopi Ford Ellisras het die voertuie se diesel geborg.

Die GameWays-studente kon daarin slaag om verdagtes aan te keer met wapens in hulle besit. Kapt Mangange en AO Lekoto van Steelpoort SAPD was baie behulpsaam tydens die arrestasie en het die studente bedank vir hulle goeie werk.

Daar is ook besoek afgelê by verskeie boere teen die Phalalarivier waar talle draadstrikke verwyder is.

GameWays Anti-Poaching NPC beplan om voortaan aksies soos hierdie voort te sit as deel van die praktiese veldfase van die kursus. Van die boere het ook aangedui dat hulle van die GameWays teenstroopoperateurs permanent in diens wil neem om die area te help beveilig.

GameWays Anti-Poaching NPC is ’n niewinsgewende maatskappy wat ’n verskil maak deur jong mense die nodige opleiding te bied om ’n beroep as teenstroopoperateur te betree.

GameWays poog ook om bystand te lewer aan renosterboere en ander boere rakende misdaadvoorkoming. As ’n niewinsgewende maatskappy dek die kursusfooie slegs die kursusuitgawes en GameWays is afhanklik van donasies om hierdie werk voort te sit.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.