Gaste bederf by Fiësta

LEPHALALE — Die Skemertak van die VLU het Saterdag 11 Augustus ʼn ware “Vintage Fiësta” by die Nederduitsch Hervormde Kerk Ebenhaeser se kerksaal gehou. Die tema was “hoed en pêrels”.

Tharina Rossel en Wimpie Sparks spog met hulle hoede by die Fiësta

Die gaste was uitgedos in ʼn verskeidenheid uitrustings uit die verre verlede soos kant, “crimplene”, hoede met vere, blomme en pêrels.

Die mannesanggroep, die Grenadiers, se sang onder leiding van Riekie Stopforth (klavier) en Hannelie Jordaan (fluit) het net die regte atmosfeer geskep en die gaste was in vervoering.

Trudie Bronkhorst, voorsitter van die Skemertak, het verduidelik dat die idee van die geleentheid is dat elke persoon wat dit bywoon sal voel dat sy bederf word. Die daad is by die woord gevoeg en elke gas is oorval met geskenke en heerlike eetgoed.

Tharina Rossel, president van die SAVLU, het gesels oor vrouwees en oor die VLU as organisasie vir die vrou. Sy het gaste uitgenooi om aan te sluit en deel te word van dié dinamiese internasionale organisasie.

Elana Greyling het gesels oor die opheffing van vroue. “Fobert Heinlein het gesê vroue en katte sal doen wat hulle wil en mans en honde moet maar gewoond raak daaraan,” het sy gesê.

Sy het vroue geloof vir hulle stryd om vrouebevryding, maar ernstig gewaarsku dat dit saam met verantwoordelikheid gaan. “As dit waar is dat ‘the hand that rocks the cradle rules the world’, is dit groot kritiek teen hoe vroue deesdae kinders grootmaak. Dit is elke vrou se plig om haar hand uit te reik en die vroue om haar op te help, te steun en hoog te hou. Alle vroue moet geleer word hoe belangrik dit is om verantwoordelikheid te neem vir haar gesin, haar omgewing en gemeenskap,” het sy verder verduidelik.

Elana het op versoek ʼn voordrag gelewer oor watter vriendinne met watter diere vergelyk kan word.

Die geleentheid is op ʼn soet noot afgesluit met meer as ses soorte nagereg om van te kies!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.