Geblik en vrygelaat

geblik-en-vrygelaat

Leoni Kruger
LEPHALALE — Twee leeus, ‘n pragtige mannetjie en wyfie, gebore en getoë op Tienie Bamberger se plaas Warthog Safari’s in die Vrystaat, is Saterdag 15 Oktober vanaf dié plaas vervoer na ‘n privaat wildreservaat naby Sterkrivier. Dié twee, wat van verskillende bloedlyne afkomstig is, is dus uit “geblikte” omstandighede in die natuur vrygelaat waar hulle vry sal kan beweeg.
Volgens Tienie sal die twee, wat hopelik vinnig sin in mekaar sal kry, natuurlik gemonitor word, maar nie deur middel van halsbande of enigiets wat hulle kan inperk nie.
Tienie sê daar is, anders as wat die algemene mening is, nie ‘n tekort aan leeus in Suid-Afrika nie. Suid-Afrika is die enigste land in die wêreld, waar die leeupopulasie tussen 12% tot 17% gegroei het in die laaste 20 jaar.
Tienie, wat Limpopo verteenwoordig op die bestuursraad van SAPA, sê dit is deel van SAPA en die departement van natuurbewaring se vereistes dat ‘n omgewingsimpakstudie en habitatontleding gedoen word voordat leeus vrygelaat word en natuurbeamptes het dié se nuwe terrein besoek om te sien dat die area genoeg prooi dra om die leeus se verblyf te regverdig. Die grootte van die grond word ondersoek om te kyk of dit aan die wet voldoen. ‘n Permit moes ook verkry word vir die vervoer van die leeus.
Die diere is Saterdag deur ‘n veearts verdoof waarna haarmonsters geneem is vir DNS- ontledings sodat die herkoms van dié twee nie onder verdenking kan wees nie.
Na die vrylating het dit gelyk of hulle sommer vinnig danig is met mekaar.
Bamberger sê dat organisasies soos die Professional Hunters Association of South Africa (PHASA) hulself gedistansieer het van die jag van leeus wat in aanhouding geteel is totdat die “bewaringswaarde” van die jag van die leeus bewys kan word aan PHASA asook die International Union for the Conservation of Wildlife (IUCN).
Met die vrylating van leeus wat in aanhouding geteel is in ‘n gunstige habitat waar daar in die laaste (minstens) 100 jaar nie leeus geloop het nie, behoort ‘n goeie voorbeeld te wees daarvan dat leeus wat in aanhouding geteel is, wel kan bydra tot bewaring. Hierdie leeus begin nou ‘n hele nuwe nageslag in die perfekte habitat wat deur SAPA goedgekeur is.
Tienie beklemtoon ook dat leeus wat in aanhouding geteel is kan aanpas in ‘n “wilde” omgewing wanneer hulle vrygelaat word. Hierdie leeus was aanvanklik nie topfiks nie, maar binne ‘n dag of twee na vrylating is die eerste prooi vasgetrek om die honger te stil. Dit is instinktief en nie iets wat hulle eers moet aanleer nie” sê hy.
Tienie sê SAPA is altyd op die uitkyk vir ‘n geleentheid waar daar voldoende habitat en prooibasis is om leeus te hervestig.
“Hierdie is ‘n volhoubare proses wat bydra tot die bewaringswaarde van leeus wat in aanhouding geteel word” sluit hy af.
“Die bestuur van SAPA maak staat op die integriteit van “doemsprekers” om indien dié twee leeus in die natuur oorleef en voortplant, te erken dat plaasleeus ‘n definitiewe rol speel in die oorlewing van die Afrika-leeu, aangesien hulle dan “bewaringswaarde” het.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.