Geen water by Melkrivier Laerskool

Die foto is by Melkrivier Laerskool geneem en wys hoe kinders in rye moet staan om ʼn beker water te ontvang nadat slegs ʼn paar dromme drinkwater by die skool afgelaai is
Die foto is by Melkrivier Laerskool geneem en wys hoe kinders in rye moet staan om ʼn beker water te ontvang nadat slegs ʼn paar dromme drinkwater by die skool afgelaai is

MELKRIVIER — ʼn Skool met byna 150 leerders is reeds vanaf November 2015 sonder water.
Melkrivier Laerskool, geleë tussen Vaalwater en Marken, se dompelpomp en kragtoevoer is buite werking en die skool het nie genoeg fondse om die skade te herstel nie.
“Geldelike hulp vanaf die staat is weinig en ons is alewig agterstallig met betalings. Die skool het ook net elektrisiteit in die kantoor, wat krag voorsien aan ʼn rekenaar en ʼn fotostaatmasjien,” het een van die onderwysers verduidelik wat anoniem wil bly as gevolg van moontlike probleme met die Departement van Onderwys.
“Die Norms&Standards wat vanaf die Departement aan skole betaal word en wat veronderstel is om alle onkostes te dek, is die afgelope jaar dramaties verminder en Melkrivier skool het in 2015 slegs R40 000 ontvang. Hierdie geld is slegs genoeg om die skoolhoof se vervoer na verpligte vergaderings, papier en ink vir die fotostaatmasjien en sover moontlik elektrisiteitkostes te dek,” sê die bron.
ʼn Elektrisiën is na die skool gestuur om ʼn beraamde bedrag vir die herstel van die dompelpomp, kragtoevoer en waterprobleem te gee. ʼn Kwotasie is ontvang vir
R8 298.
Enige donasies aan die skool sal waardeer word, hulle kan nie vir ʼn onbepaalde tyd sonder lopende water klaarkom nie en wil baie graag die probleem oplos.
Lesers kan gerus vir Pieter van der Westhuizen by 082 701 7344 skakel in verband met hulp of donasies vir die skool.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.