“Geloof het my gedra met borskanker” – Tammy Kotze

LEPHALALE — Mogol Pos het met die oog op Borskankermaand met Tammy Kotze van Lephalale gesels oor haar reis met borskanker.

Tammy het in middel November 2017 ʼn knoppie in haar bors gevoel. Sy is 7 Desember na die onkoloog en sy is op 16 Desember 2017 geopereer. “Die knop het in die tyd tussen my eerste besoek aan die onkoloog totdat ek geopereer is met 13 cm gegroei,” sê Tammy. Daar kon ook op die mammogram gesien word die gewas in haar linkerbors is baie groot.

“Na die operasie het hulle 16 kliere onder my arm en in my nek verwyder en tien van die 16 het positief vir kanker getoets,” sê sy.

Daar is tydens die mastektomie ook voorbereiding gedoen indien sy later ʼn borsinplanting sou wou doen. Die dokter sit ʼn “ballon” onder die borsvel wat die vel kans gee om te rek volgens die grootte wat die pasiënt dit sou verkies.

“Dit is glad nie vir my belangrik om borste te hê nie, as dit van my afgehang het, het ek ʼn dubbele mastektomie laat doen, maar die dokters het vir my gesê ek is ʼn te hoë risiko omdat ek maklik bloedklonte en sellulitis (weefselontsteking) ontwikkel. Ek het wel sellulitis van die bestraling gekry. Na hierdie borsoperasie en die bestraling dink ek nie ek sal dit weer doen nie,” verduidelik Tammy.

Daar is geen familiegeskiedenis van borskanker in haar familie nie en sy het nooit enige hormoonaanvulling gebruik nie, sy het nooit gerook nie en gebruik alkohol per geleentheid en sy het ook nooit enige groot trauma ervaar nie. Dinge wat as snellers vir kanker beskou word.

Tammy sê wel dat spanning met haar werksituasie vir haar erg was. Sy het in Januarie 2017 bloedklonte in haar bene gekry waarmee sy in die hospitaal beland het. Daarna het sellulitis in haar bene ontwikkel en sy kon nie gaan werk nie. Sy was baie bekommerd omdat sy as gevolg daarvan nie ʼn salaris verdien het nie. Sy was by die huis sonder ʼn salaris en haar verlof was ook uitgeput. Velkanker is boonop by haar man gediagnoseer waarna hy gehospitaliseer is. Die kanker is verwyder en hy moes veloorplantings kry. “Dit was ʼn rowwe jaar,” sê sy.

Nadat sy die mastektomie gehad het moes sy chemoterapie kry en in daardie tyd het sy in Huis Tipuana, KANSA se sorgtuiste in Pretoria, gebly. Tydens haar chemoterapiesessies vanaf Februarie vanjaar het sy gesien dat kanker nie jou ouderdom, geslag of omstandighede in ag neem nie. “Enigiemand kan kanker kry.”

Die chemo was vir haar baie erg en sy het soms, soos baie ander, gewonder of dit alles die moeite werd is. “Ek sal nie weer vir chemo gaan nie, tog weet ek ʼn mens se drang om oorlewing is baie sterk,” sê sy.

Tammy het op 27 Augustus 2018 ook bestraling begin kry. “Die bestraling krimp alle tekens van kanker wat moontlik kon oorbly. Dit was vir my baie erg want ek het verskriklik gebrand. (Mogol Pos het foto’s gesien van die brandwonde, maar dit kan nie in ʼn gemeenskapskoerant gepubliseer word nie). “Ek het vir ses weke bestraling gekry, in totaal 54 bestralingsessies wat soms tot 45 minute per sessie geduur het (tussen 10 en 45 minute).

Bloedtoetse dui aan dat sy skoon is van kanker, maar sy sal eers in November weet of sy wel in remissie is. Sy moet steeds vir vyf jaar die chemopil drink.

“Ek is nie bang om weer kanker te kry nie, ek weet net nie of ek weer ʼn keer dieselfde krag of moed sal hê om dit te doen nie. Ek is baie moeg,” sê sy.

Haar man het dit so kalm en rustig as moontlik probeer hanteer, maar sy sê dit was vir haar susters ʼn groot skok.

“Ons was een keer by KANSA Lephalale en hulle was een keer by my. Ek dink hulle kon meer vir my gedoen het. Hulle het my wel ongelooflik ondersteun gedurende die tyd wat ek in Tipuana gebly het. Hulle het baie met ons gepraat en ons baie ondersteun,” sê sy.

Tammy se boodskap aan ander vroue wat ook die stryd teen borskanker stry is:

“Wees sterk, jou geloof dra jou en jou hele siening oor die lewe verander. Mens besef kanker is eintlik ʼn doodsvonnis. Lewe die lewe voluit, aardse dinge gaan nie saam met jou nie. Ek voel regtig so. Al wat jy het om regtig aan vas te klou is jou geloof. Psalm 23 het my baie gehelp. Raak stil en vra jouself af – is hierdie regtig die moeite werd? ʼn Gejaag na geld beteken niks. Staan op, sit jou grimering aan en begin elke nuwe dag met nuwe genade.

“Ek het alles net makliker hanteer omdat my geloof so sterk is – ek sal liewer na ander mense luister oor wat hulle pla as om oor myself te praat.

“Die onkoloog het op ʼn stadium gesê sy is bekommerd en sy het gedink ek is baie depressief omdat ek nie gehuil het nie. Ek het net aangegaan, want ek het geweet dit is die pad wat die Here vir my gekies het. Iewers moet ek iemand aanraak.

“Ek dink ek het my persoon gekry vir wie ek dink ek daar moes gewees het.

“Dit is ʼn 73-jarige tannie wat by Tipuana aangekom het. Sy het die Maandag chemo gekry en vir die week in Tipuana gebly omdat sy alleen bly.

“Sy was baie depressief en opstandig. Ek het net met haar gesit en gesels en ek het haar geleentheid gegee om te praat en ek het net geluister. Toe sê ek vir haar as jy niks aan jou omstandighede kan doen nie, aanvaar dit en berus. Dit help nie jy tob daaroor nie. Dinge wat jy kan verander – gaan werk daaraan, die res, gee oor. Die tannie het daar uitgestap en sy het gelyk soos ʼn nuwe mens. Ek dink in ʼn mate het ek my doel bereik.

“Jou lewe verander in terme daarvan dat jy elke dag voluit leef. Asof jy elke dag net daai oomblik het waarvan jy seker is. Ek geniet elke ding wat ek doen. Dit is onnodig om kwaad te word of met iemand te raas of te baklei. Ek probeer om net die mooi te sien in wat ander doen,” sê Tammy.

Haar raad aan ander vroue is om elke jaar vir ʼn mammogram te gaan, bykomend tot gereelde selfondersoek. Kry ʼn tweede opinie en moenie dink dit kan nie met jou gebeur omdat daar niemand in jou familie is wat borskanker het of gehad het nie.

En moenie tyd mors met onbenullighede nie.

“Dit is ʼn ondervinding wat ek nie graag weer sal wil hê nie, maar dit het my ook begrip gegee vir ander mense en waardeur hulle gaan,” sluit sy af.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.