Geluk ds Chris …

Chris Coetzer sing vir ds Chris en Elize

Ria Wells
LEPHALALE — Daar is Saterdag, 18 Maart, behoorlik feesgevier om ds Chris Nel se tagtigste verjaardag saam met familie en vriende te gedenk. Chris Coetzer, bekroonde tenoor, het ds Chris en Elize op die bekende lied: “Die mense wat ek liefhet, groei op my soos mos …”, binnegenooi terwyl hulle kinders en kleinkinders ‘n erewag gevorm het.
Anita Erasmus wat die funksie gereël het, het gesê dat dit vir haar ‘n groot voorreg is om die gaste te verwelkom by die verjaardagvieringe van ds Chris wat soveel mense se lewens aangeraak het. Die Mogolorkes met Piet Wessels, Piet Barkhuizen, Danie van Deventer en Frik van der Linde het ook hul deel met boeremusiek bygedra tot die lekker gees by dié besondere fees.
Anton du Plessis, skoolhoof by Laerskool Ellisras, het namens die skool gelukwense vir dié besondere mylpaal oorgedra. Hy het gesê dat ds Chris deur die jare ‘n geweldige belangrike rol in die kinders van die skool se lewens gespeel het met die saalopeninge en betrokkenheid by die bybelvasvra.
Abraham Pelser het namens die Limpopo-gemeente waar ds Chris die afgelope jare in die bediening staan gesê dat hulle onder sy leiding ‘n gelukkige gemeente is en vertrou dat ds Chris nog vir jare saam met die gemeente sal wees.
Jarelange vriend, Neels Troskie, het gesê dat dit ‘n besondere voorreg is om namens NG
Albertyn-gemeente en die gemeenskap vir ds Chris geluk te wens en nog steeds die vrugte kan pluk wat ds Chris gebring het, nie net met prediking nie, maar ook as vriend. “U lewe was vir ons ‘n besondere inspirasie en die werk by die skole en die kerk was nooit vir jou te veel nie. ‘n Geloofsdraer vir almal”.
Daarna het elke kind die geleentheid gekry om hul pa geluk te wens en dit was duidelik dat ds Chris diep spore getrap het op elke fasset van sy kinders se lewens. Hulle het sy liefde en lewensvreugde, werksetiek, inspirasie en gehoorsaamheid aan God se roeping as kosbaar en wonderlik beskryf.
Op sy beurt het ds Chris gesê dat hy en Elize in alles sy Skepper sien en deur goeie en moeilike tye in staat was tot alles deur Christus wat hulle krag gee. Hy is nou vir 54 jaar in bediening en 55 jaar met Elize, wat hy op universiteit ontmoet het, getroud. Saam het hulle vyf kinders en nege kleinkinders. Ds Chris het hulde gebring aan sy ouers wat 12 kinders moes grootmaak waarvan hy die derde jongste is. “Swaarkrydae” het hy dit beskryf. Maar hulle is van kleins af die koers standvastig aangedui met God as rigtingwyser.
Ds Chris het sy vriende en die gemeenskap bedank wat saam met hom die bedieningspad geloop het en vertroue in hulle gehad het. Na baie jare in NG Albertyngemeente was hy na sy aftrede vir drie jaar in Botswana betrokke gewees by ‘n interkerklike gemeente waarvan hy mooi herinneringe het. Daarna het die Limpopo-gemeente hom gevra om hulle te lei. Hy het ‘n spesiale woord van dank teenoor dié gemeente uitgespreek wat hom met hartlikheid ondersteun en dit sover as wonderlike jare beskryf.
Hy het sy kinders en kleinkinders wat “onlosmaaklik met bloed en liefde aan ons verbind is”, spesiaal bedank vir hul liefde en dat hulle van oraloor gekom het om dié spesiale geleentheid saam te vier. Vir Chris Coetzer het hy gesê dat hulle al soos familie voel deur sy menige kuiers en optredes by Limpopo-gemeente. Ds Chris het ook vir Anita bedank vir die spesiale funksie wat sy gereël het.
Vir Elize, sy vrou, het hy ‘n spesiale boodskap gehad. “Sy loop jare met my saam, sy is my lewensmaat, vriendin en metgesel. Sonder haar sou ek nooit kon bereik wat ek bereik het nie. Sy het my bygestaan in swaar en goeie tye en ons het mekaar deur krisisse gedra”. Hy het daarna sy seën oor almal uitgespreek.
En natuurlik was die groot oomblik toe ds Chris en Elize saam die pragtige koek in die vorm van 80 gesny het en almal na hartelus daaraan kon smul.
Mogol Pos wens ook vir ds Chris van harte geluk met hierdie mylpaal asook vir sy besondere vriendelikheid wanneer hy ‘n draai by die kantore maak!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.