Gemeenskap eerste

LEPHALALE — ʼn Musikale allegaartjie is Vrydagaand 17 Augustus aangebied by die huis van Riekie Stopforth. Dié musiekaand was ten bate van die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) Lephalale wat onskatbare werk doen in die dorp en omgewing.

Die Grenadiers v.l.n.r.: Karel Botha, Johan du Toit, Johannes Jordaan, Carel Booysen en Willem Hoffman. Inlas is Riekie en Nelia

Derick Kitching, een van die GPF Lephalale se vyf eerste reaksielede, het die gaste namens die GPF toegespreek. Hy het verduidelik dat hulle die gemeenskap se veiligheid eerste stel en bedien met alle middele tot hulle beskikking. Mannekrag, brandstof om ʼn helikopter in die lug te hou en voertuie op die grond, asook ander items is van kardinale belang. ʼn Goeie voorbeeld is verlede week se heeldag rondry, voetslaan en spoorsny agter die ontsnapte Petrus Moyo aan, beweerde moordenaar van dr Werner Emslie – alles om die polisie in hulle taak by te staan en hulle werk ligter te maak.

Derick het gesê dat hulle baie nou saam met die polisie werk en baie goeie verhoudinge met hulle handhaaf. “Dis nie ʼn maklike taak nie en ons het fondse broodnodig en moet gereeld bedel vir fondse, maar dankie aan elkeen wat die GPF bystaan,” het hy afgesluit.

Die Grenadiers-mannekoor, onder begeleiding van Nelia Jordan op dwarsfluit en Riekie op klavier, het gaste vermaak met opgewekte liedjies. Sop en brood is bedien en na pouse het almal heerlik saamgesing.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.