Gemeenskap in rou

LEPHALALE — Woensdagaand 20 September is die bekende en geliefde dr Werner Emslie (55) op sy stoep op sy plaas Waterval doodgeskiet. Sy vrou, dr Mariëtte Emslie, is ook geskiet en sy het wonderbaarlik oorleef. Barbara, hulle 19-jarige dogter, was tuis tydens die voorval, maar sy is ongedeerd.
Mogol Pos het met Barbara gesels oor die voorval.
“Ek en my ma was 19:40 in die huis besig om te sit en kla daaroor dat my pa nie die vleis klaar gebraai kry nie. Ek het dié dag van die universiteit af huis toe gekom en was baie honger,” sê sy.
Terwyl Ma en dogter gesit en gesels het, het hulle gehoor iets is buite aan die gang, waarna ʼn geweerskoot geklap het. Barbara sê Mariëtte het uitgehardloop na buite waar Werner besig was by die braaivleisvuur. “Ek was ook op pad na my pa toe, maar toe ek die geweerskote hoor het ek my selfoon gevat en myself in my ouers se slaapkamer gaan toesluit. Die deur wou nie behoorlik sluit nie en ek het myself uiteindelik in hulle badkamer toegesluit. Ek het my broer, Grant, om presies 19:48 gebel en vir hom gesê daar is gewapende mans in ons huis,” vertel sy.
Barbara sê die verdagtes het aan haar ouers se kamerdeur geruk en –pluk om by die deur te probeer ingaan. Sy het intussen haar ma gehoor praat. “Haar stem was baie rustig en ek het gedink dit is dalk sy en my pa wat voor die kamerdeur praat. Ek het die badkamerdeur oopgesluit en toe sien ek my ma en drie onbekende mans daar staan. Hulle het gesien ek het ʼn telefoon en my beveel om die kluis oop te sluit” sê Barbara.
Sy sê sover sy kan onthou het hulle twee kleiner wapens uit die kluis gevat. “Hulle het my ma met een van die handwapens geskiet en haar met ʼn mes gesteek en gesny en haar die hele tyd agter hulle aangesleep”. Hulle het Engels met haar gepraat en latekshandskoene aangehad.
Die noodradio in die huis was op daardie stadium reeds bedrywig, want die nuus van die aanval het reeds by die nooddienste uitgekom (danksy Barbara se oproep na Grant). Nadat Mariëtte geskiet is, het die verdagtes Barbara na haar ouers se kamer geneem en haar vasgebind. Daarna het hulle met dr Mariëtte se splinternuwe Toyota dubbelkajuitbakkie gevlug – waarskynlik as gevolg van die oproer op die noodradio’s.
Barbara het die toue waarmee hulle haar vasgebind het losgekry en dadelik ʼn ambulans ontbied.
Intussen het Grant sy boesemvriend LC Venter geskakel, wat op sy beurt sy pa, Lukas Venter, ʼn huisvriend van Werner en Mariëtte, geskakel het. Die Afgunsgemeenskap en ander nooddienste was binne minute op pad na die Emslies se plaas om hulp te verleen.
Ván die gemeenskapslede sê hulle moes waarskynlik verby die verdagtes gery het, want Mariëtte se voertuig is later langs die R510-pad net na Ashanté gevind waar die verdagtes deur ʼn ander voertuig opgelaai is. Dit is onseker of die verdagtes enigiets gesteel het.
Dr Mariëtte is na Mediclinic Lephalale geneem waar sy gestabiliseer is. Volgens die familie was al die dokters in Lephalale daar om haar by te staan.
Sy is Donderdagoggend 21 September omstreeks 03:00 per helikopter na Muelmed Hospitaal in Pretoria oorgeplaas waar sy in die intensiewe sorgeenheid opgeneem is. Teen druktyd was haar vordering merkwaardig en haar toestand stabiel.
Die Heritage Protection Group, ʼn privaat misdaadondersoekeenheid, het met toestemming van die familie ʼn beloning van R25 000 uitgereik vir enige inligting wat kan lei tot die arrestasie van die vier verdagtes.
Dr Werner Emslie laat sy vrou, Mariëtte (55), dogter Barbara (19), seun Grant (25), sy broers Victor (53), Don (49), Robert (59) en sy ouers Guy (83) en Blanche (82) agter.
Teen druktyd was daar nog geen begrafnisreëlings bekend nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.