Gemeente maak strate skoon

LEPHALALE — Gemeentelede van AGS El Bet-el, geleë in Konkoitstraat, het Saterdag 1 September die strate saam met pastoor Francois du Toit ingevaar om Valk- en Konkoitstraat skoon te maak.

Dié strate is die toegangsroete na die kerkgebou en die rommel (huisafval, papiere en bottels) wat oral gestrooi was, was ʼn seer oog vir gemeentelede en mense wat die kerk besoek het.

Volgens Theo de Villiers, skakelbeampte van die gemeente, het hulle reeds verskeie oproepe na die munisipale kantore en amptenare gemaak en versoek dat die strate skoongemaak moet word, maar van die vele beloftes het daar niks gekom nie. Die gemeentelede het toe besluit om self in te spring.

Gemeentelede en vrywillligers het vanaf 06:00 begin om vullis op te tel en verbygangers het belangstellend navraag gedoen oor waarmee hulle besig is. Sommige weldoeners het koeldrank afgelaai en aangedui dat hulle moontlik in die toekoms deel sou wou wees van soortgelyke projekte.

Die skoonmaakaksie was teen druktyd nog nie afgehandel nie, maar die betrokkenes bedank Embee Bosman en sy span by Coastal Hire van harte vir die gratis beskikbaarstelling van ʼn grassnyer.

Volgens die gemeentelede lyk die areas reeds baie beter, maar hulle beplan om voortaan gereeld sulke aksies te hou sodat die strate skoon kan bly.

Almal wat betrokke was word bedank en enige persoon of instansie wat belangstel om in die toekoms by die projek betrokke te raak kan die kerkkantoor in Konkoitstraat besoek of ʼn epos stuur na theo@elbetel.co.za.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.