Geskiet in plaasaanval — Samewerking lei tot arrestasies

Leoni Kruger
Drie verdagtes het Maandagoggend tussen 03:00 en 04:00 toegang verkry tot Sam (68) en Meisie (67) Liversage se huis op die plaas Klipgat in die Roedtan-area en Sam is in sy regterbors geskiet. Die koeël is deur sy long.
Sam en Meisie is die ouers van Willie en Marlene Liversage, die bestuurders van Mogol SPAR in Onverwacht.
Volgens ‘n woordvoerder van die Heritage Protection Group (HPG) ‘n spesialis-misdaadondersoekeenheid, het Sam wakker geword van die huis se alarm. Hy het opgestaan om te kyk in watter gedeelte van die huis die alarm geaktiveer is en gesien dit is in die rondawel wat vas aan die huis is. Hy het sy vuurwapen gevat en gaan ondersoek instel.
Volgens HPG was die deur tussen die huis en rondawel oop en een van die verdagtes het in die deuropening op die grond gelê met ‘n vuurwapen op Sam gerig. Hy het Sam in sy regterbors geskiet. Sam het teruggeskiet maar volgens Marlene weet hy nie of hy raakgeskiet het nie. Sam is terug na hulle slaapkamer.
Intussen het die huishulp die skote gehoor en gesien hoe die verdagtes weghardloop.
Meisie het probeer hulp ontbied en ‘n boodskap gestuur na Willie en Marlene wat lees: “Pa is geskiet”.
Marlene sê dis al wat hulle geweet het toe hulle uit Lephalale ry en hulle het van dié kant af probeer hulp kry.
HPG is ontbied en saam met lede van die Roedtan/Marble Hall-gemeenskap is die verdagtes se spore vir ongeveer 25 km gevolg. Die eerste verdagte is gearresteer in die veld langs die Roedtan/Marble Hall-teerpad. Volgens HPG se woordvoerder het dié verdagte hulle ingewag en sy vuurwapen op hulle gerig, maar hulle het teruggevuur en hom raakgeskiet. ‘n Vuurwapen, waarvan die nommer afgekrap is, en ‘n balaklawa is by hom gekry. Die tweede en derde verdagte is binne ‘n paar minute daarna in dieselfde omgewing gearresteer.
Teen druktyd was Sam steeds in ‘n Privaathospitaal in Polokwane, maar volgens Marlene is sy toestand stabiel, alhoewel hy baie bloed verloor het.
HPG sowel as die familie bedank almal wat gehelp het om die verdagtes vas te trek. Marlene sê dit was ongelooflik om te sien hoeveel mense betrokke was en hoe almal opgedaag het om te help. Sowat 90% van HPG se mense, meer as 100 boere en verskeie polisielede het by die toneel opgedaag.
“Dit is as gevolg van die ongelooflike samewerking van almal wat daar was dat die verdagtes so vinnig gearresteer is, baie dankie daarvoor” sê HPG se woordvoerder.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.