“Geskille” by ongelukstonele

Ria Wells
LEPHALALE — Gemoedere het Saterdagaand 24 Junie plek-plek hoog geloop in Lephalale na twee padongelukke.
In die eerste voorval was Johan Erasmus jr met sy dubbelkajuit Isuzu registrasienommer CKG 829 L vanaf Hoornbosch op pad dorp toe, toe daar klaarblyklik ‘n Chevrolet sedan met registrasienommer HGG 494 MP vanuit Mamojelapark se kant reg voor hom indraai.
Johan het die voertuig aan die regter-agterkant getref waarna hy dwarsdeur die wilddraad ongeveer 25 meter verder teen ‘n boom aan die teenoorgestelde kant van die teerpad tot stilstand gekom het. Hy het 18:46 op die GPF-groep ‘n boodskap gelaat waarin hy dringend hulp soek. Volgens inligting het heelwat mense vinnig op die toneel verskyn en omstanders het na bewering gedreig om Johan se voertuig aan die brand te steek.
Die polisie was gou op die toneel om die siutasie te ontlont en verklarings af te neem terwyl die personeel van Honnetsweng ambulansdienste noodhulp op Johan toegepas en hom Mediclinic toe vervoer het. JD Towing het die bakkie verwyder.
In nóg ‘n voorval dieselfde aand in Swartrifstraat het ‘n Toyota ‘n bakkie wat op die sypaadjie gestaan het getref, omdat die bestuurder na bewering te vinnig oor die spoedhobbel gery en beheer oor die voertuig verloor het. Die situasie is onder beheer gebring maar volgens die betrokkenes in die voorval het daar later ‘n groep mense opgedaag en ‘n woordewisseling het ontstaan oor die voorval. Daar is na bewering baie kru uitlatings gemaak. Die buurtwag het hulle na die toneel gehaas waarna die mense uiteengegaan het.
Mogol Pos het gaan kers opsteek by Thys Eloff, voorsitter van Lephalale GPF en hy sê die groot rede vir sulke voorvalle is omdat mense nie by die reëls hou nie. “Hou by die padreëls, gehoorsaam die padtekens en hou by die aanbevole spoedbeperking en die dorp sal ‘n beter plek wees” is sy kommentaar. Eloff het ook gesê dat die GPF bewus is daarvan dat inwoners oor naweke deelneem aan “snelrenne” op paaie en dat dit heeltemal onwettig is.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.