Gesoek: BBV-voorsitter

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die landelike veiligheidsforum (LVF) het Donderdag 17 Maart by Agri se kantoor vergader en verskeie aktuele kwessies is aangespreek.
Die probleem rondom die feit dat daar tans net een ambulansdiens in Lephalale is, was weer eens op die tafel en geen werkbare alternatief kon sover gevind word nie.
Pieter du Plessis, waarnemende voorsitter van die brandbestrydingsvereniging (BBV) het onderneem om sertifikate uit te reik aan lede van die BBV sodat hulle dit as bewys het. Hy het egter ‘n lys van al die lede wat hy gewoonlik voor elke LVF-vergadering vir die wyksvoorsitters gee sodat hulle kan weet wie in die wyk is lede en wie kan nog aansluit.
Hy het beklemtoon dat in die geval waar grond uitverhuur word, die huurder ook moet aansluit by die BBV.
Die geskiedenis van die BBV is in kort aan die vergadering verduidelik en Pieter het verduidelik dat hy ‘n mandaat by die munisipaliteit gekry het om dit weer van die vloer af te kry nadat dit ‘n paar jaar gelede heeltemal platgeval het. Hy het ook bevestig dat die boeke onlangs ge-oudit is en dat alles in plek is.
Pieter het weer gesê dat hy nie voortaan as voorsitter van die BBV sal kan dien nie, as gevolg van ander verpligtinge, maar hy sal wel die administrasie hanteer. Voorstelle vir moontlike voorsitters is geopper waarna Marius Fuls, hoof van Ferroland, Limpopo, gesê het daar sal baie duidelik gespesifiseer moet word wat van die voorsitter verwag word en waarvoor hy hom inlaat, voordat enigiemand ‘n besluit kan neem.
Skakel Sandra Pretorius by 083 321 5927 vir meer inligting.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.