Gestamp en beroof

Leoni Kruger
LEPHALALE — ‘n 24-jarige vrou (wat anoniem wil bly uit vrees vir viktimisasie) is Saterdagaand 30 Januarie omstreeks 21:00 by ‘n vulstasie in Onverwacht gestamp en beroof.
Volgens die vrou het sy en ‘n vriendin eenkant gestop omdat daar baie voertuie was wat gewag het om brandstof in te gooi en hulle wou net iets by die winkel kry. Haar vriendin het in die voertuig bly sit omdat hulle kort voor die insident ‘n nagapie opgetel het en hulle hom nie wou verwilder nie.
“Toe ek die deur oopmaak en uitklim het ‘n man my teen my motor gestamp en my sakke deurgegaan. Hy het my selfoon, wat in my broek se sak was, asook my bankkaart gegryp. Hulle het in die donker verdwyn voordat ek geweet het wat aangaan” sê sy.
Sy sê sover sy weet was daar vier mans waarvan twee om hulle gestaan het, vermoedelik sodat dit nie vir ‘n buitestaander sigbaar sou wees nie.
Haar vriendin kon nie sien wat gebeur het nie, sy het net gesien hoe die vrou op die grond lê.
“Ek het opgestaan en probeer kyk of ek hulle nie sien nie, maar hulle was reeds weg. Ek is net baie dankbaar dat my seuntjie nie saam met ons gery het en dit moes beleef nie” sê sy.
Volgens haar het sy oral rondgevra en ook vir die petroljoggies gevra of hulle iets gesien het, maar niemand het iets vreemd opgemerk nie. Dit blyk ook dat die rowers waarskynlik geweet het waar die sekuriteitskameras nie afneem nie. Sy is daarna na Lephalale SAPD en ‘n saak van roof is geopen per
MAS291/1/2016.
Sy beklemtoon dat dit glad nie haar bedoeling is om enige vulstasie se naam te skaad nie, maar dat sy dit met die gemeenskap wil deel om hulle te waarsku.
Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale SAPD woordvoerder, moet mense versigtig wees om op enige donker plek uit ‘n voertuig te klim, veral aan die einde van die maand wanneer kriminele op die uitkyk is vir misdaad om te pleeg.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.