Gewapende roofverdagtes vas

LEPHALALE — Sake vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom en die besit van ongelisensieerde vuurwapens is by Hoopdal SAPD geopen nadat Polisie inligting ontvang het oor ’n gewapende roof.

’n Wit Toyota Quantum, wat Donderdag 31 Oktober deel was van ’ְn gewapende roof by Pep Stores in Lephalale, is Donderdagaand tydens ’n patrollie op die R510 deur ’n polisiebeampte opgemerk. Die voertuig het vir hom verdag voorgekom omdat foto’s van die Quantum vroeër op ’n WhatsApp-groep versprei en daar aangedui is dat dié voertuig tydens ’n roof gebruik is.

Sersant Moholane van Hoopdal SAPD en twee ander SAPD-lede was besig om ’n motorbotsing op dieselfde pad te ondersoek toe hy die Quantum opmerk en sy blou lig aanskakel. Die bestuurder van die Quantum het dadelik spoed vermeerder en probeer om vir die polisie weg te jaag. Die voertuig is afgetrek by die Sentrum/Lephalale T-aansluiting. Van die verdagtes het die voertuig net daar gelos en die bosse ingehardloop.

Hoopdal SAPD het ondersteuning versoek en boere uit die omgewing, lede van die Heritage Protection Group (HPG), Matlabas Plaaswag en die SAPD in Bulgerivier het hulle bygestaan.

Die gesteelde goedere is meters van die Quantum af gevind. Daar is beslag gelê op hope gesteelde selfone (drie sakke vol) en twee handwapens.

Die soektog het voortgeduur en die verdagtes se spore is gevolg. Vier verdagtes, Zimbabwiese burgers, is gearresteer en word by Hoopdal SAPD aangehou.

Hulle is Jimmy Khumalo (33), Skumbuso Ncube (38), Dumisani Moyo (30) en Lungile Sibanda (27).

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.