Girokopter val — twee sterf

Die girokopter waarin Delon du Plessis en Ernst Steenekamp gevlieg het, het neergestort en aan die brand geslaan en hulle is albei op die toneel dood
Die girokopter waarin Delon du Plessis en Ernst Steenekamp gevlieg het, het neergestort en aan die brand geslaan en hulle is albei op die toneel dood

Leoni Kruger
LEPHALALE — Twee mans het laat Sondagmiddag aan hulle beserings beswyk nadat die girokopter waarin hulle gevlieg het, neergestort en aan die brand geslaan het.
Die 46-jarige Delon du Plessis, ‘n konstruksiebestuurder by Steval en die 52-jarige Ernst Steenekamp, ‘n werknemer van Murray & Roberts, het Sondagmiddag omstreeks 16:00 met Du Plessis se girokopter in die veld by Ashante Lodge neergestort. Ashante is 30 km buite Lephalale op die ou Vaalwaterpad (R510) geleë.
Volgens Mabel Tyne, ‘n werknemer by Ashante, het sy en twee vriende Sondagmiddag langs die dam om ‘n braaivleisvuur gesit toe die geel girokopter laag oor die dam verby hulle vlieg. “Dit is so onwerklik, ons het letterlik vir mekaar gekyk en die volgende oomblik het ons gesien hoe hulle die foefieslaaid se kabel tref. Die girokopter het daarna in ‘n boom vasgevlieg voordat dit neergestort het. “My woorde was skaars koud dat ons moet versigtig wees dat dit nie aan die brand slaan nie, toe ons die ontploffing hoor” sê Mabel. Sy het dadelik telefonies hulp ontbied.
Volgens George du Toit, bestuurder by Dombeya Conservancy en voorsitter van die Afguns landelike veiligheidsforum, het hy die girokopter oor die plaas hoor vlieg en kort daarna het Dirk Hurter hom per radio laat weet dat dit neergestort het. Hy en ander mense van die Afgunsgemeenskap is na die toneel toe. Volgens George lyk dit asof die twee mans regtig net vir ‘n vinnige pretvlug gegaan het wat in ‘n groot tragedie geëindig het. “Beide hulle voertuie het nog by die vliegveld gestaan. Dit was nie eens gesluit nie” sê hy.
Steenekamp het, volgens vriende, ongeveer 7-8 jaar by Ledibeng Eco Estate in Lephalale gewoon. Hy laat sy ma, Marie (75) en twee seuns Ernie (22) en Michael (15) agter.
Hannalie de Beer, ‘n kollega van Ernst, het vir Mogol Pos gesê Ernst was die mees behulpsame mens en hy was altyd reg om êrens uit te help – of dit nou ‘n pap band, battery of net ‘n vreemde geluid in jou voertuig se enjin was. “Hy was ‘n briljante werktuigkundige. Ons almal se harte by Murray & Roberts is baie seer. Dis net … heeltemal te gou” sê sy.
Delon se familie woon op hul familieplaas Nooitgedacht in Witrivier, Mpumalanga en volgens bronne het hy ongeveer 18 maande in Lephalale gewoon en –werk. Hy laat sy vrou Beverley en ‘n seun en dogter agter.
‘n Burgerlike lug-vaartondersoek is Maandag-middag gedoen en volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale SAPD woordvoerder, het hulle die “GPS” en “black box” saamgeneem vir verdere ondersoeke. A.O. Mokoena sê egter hulle was nie seker of hulle iets sou vind nie, omdat alles in die brand beskadig is.
‘n Nadoodse ondersoek is Woensdag in Mokopane gedoen, maar die uitslag was teen druktyd nog nie bekend nie.
Die naaste familie en vriende van Ernst Steenekamp het Dinsdagaand om 19:00 ‘n gedenkdiens by sy huis gehou en ‘n kers vir hom gebrand.
‘n Geregtelike doodsondersoeksaak is geopen.
George du Toit bedank almal in Afguns vir hulle vinnige hulp en bystand. “Dankie dat julle die noodprotokol tot op die letter gevolg het. ‘n Besondere dankie aan Aldo Venter van EZT Comms vir sy onmiddellike reaksie en bystand op die toneel in die vorm van ligte, ‘n kragopwekker en professionele optrede”, sê hy.
Teen druktyd was Burgerlugvaart se uitslag nog nie bekend nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.