G’n skrik vir slang

Marius by ‘n krat vol pofadders
Marius by ‘n krat vol pofadders

Leoni Kruger
LEPHALALE — Hulle kon die afgelope Februariemaand nie byhou om slange te vang en hervestig nie, sê Marius Koekemoer, slangvanger in Lephalale.
Marius en sy vennoot, Henko Janse van Rensburg, sê hulle het die afgelope Februariemaand 140 diere gevang en hervestig en ongeveer 105 daarvan was slange. Van die ander diere wat hulle gekry het is skilpaaie, likkewane en ‘n krokodil.
Volgens Marius is Februarie gewoonlik vir hulle ‘n besige maand, want dit is eier-uitbroeityd vir slange. Vanjaar was hulle besiger as ooit – waarskynlik het die hitte en humiditeit daartoe bygedra – maar hulle het BAIE babatjies gevang. Sommige van dié kleintjies woon steeds by Marius totdat hulle sterker is om losgelaat te word.
My groot vraag wat ek uit Marius se eie mond wou hoor is: Wat op dees aarde gebeur in ‘n mens se lewe dat jy besluit dat jy vir die res van jou lewe met (veral) slange wil werk? Wat maak dat jy nie omgee om ‘n duisend keer gebyt te word nie?
Marius sê die een groot dryfveer agter sy besluit om ‘n slangvanger van beroep te wees, is omdat die meeste mense slange haat en vir hulle bang is. Hy wil bewys dat slange eintlik skugter, bang diere is. En mooi daarby. “Almal word geprogrammeer om slange te haat, maar ek het my eerste slang op 6-jarige ouderdom gevang, daarna was daar geen keer nie” sê hy.
Is daar dan ‘n slang waarvoor hy bang is? “Bang – nooit, maar versigtig vir ‘n Voëlslang is ons wel. Omdat daar geen teengif beskikbaar is vir ‘n voëlslang nie en hulle is dodelik giftig” sê hy.
Marius en Henko waarsku dat bosvelders maar ‘n gewoonte daarvan moet maak om altyd eers in die bed te kyk voor jy inklim. Dit is ‘n kobra se gewoonte om knus in die bed te lê – as jy inklim, skrik hy en byt.
Hy sê ook dat daar slegs van ‘n toerniket gebruik gemaak mag word in gevalle waar ‘n mamba of wipneuskobra jou gebyt het, aangesien die gif neurotoksies is en jy wil keer dat dit vinnig in jou bloedstroom versprei. Die gif van ander slange is sitotoksies, jy wil dus hê die gif moenie op een plek bly nie.”
Marius sê gevalle van slangbyte neem definitief toe in Lephalale en daar is ‘n geweldige tekort aan serum – veral die serum van ‘n swart mamba en groen boomslang.
Hy rig ‘n dringende versoek aan die gemeenskap om nie slange sonder meer dood te maak nie – “as jy byvoorbeeld ‘n mamba of ‘n boomslang doodmaak, ontneem jy iemand van ‘n kans om teengif te ontvang na ‘n slangbyt.
Dokters kan Mike Perry van die maatskappy African Reptiles and Venom by 083 448 8854 skakel vir meer inligting oor kursusse rakende die behandeling van slangbyte (by verskillende slange). African Reptiles and Venom is in 1999 gestig met die aanvanklike doel om gif aan die SA Teengifvervaardigers te verskaf vir serumproduksie.
Marius wys Mediese Praktisyns daarop dat vyf VPO-punte (Voortgesette Professionele Ontwikkeling) verdien word met die bywoon van ‘n kursus.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.